Koerant deel van 62 varke in Johan se verhaal
Twee en sestig bestellings later en 'n suksesvolle skou agter die rug, bedank Johan en sy ouers almal van oor die hele gemeenskap wat bestellings geplaas het.

Boereordentlikheid om dankie te sê het LETABA HERALD Maandagmiddag, 22 Oktober verras nadat Johan Coetzee twee varkie broodoonde by ons kantore kom aflewer het.
Die HERALD het vroeër berig oor Coetzee se manne-en-waagmoed om varkie broodoonde op bestelling te sweis om dit vir hom moontlik te maak om aan die Nasionale Landbouskou in George te gaan deelneem.
Lees: TZANEEN: Die vark in Johan se verhaal het te doen met ‘n broodjie in sy oondjie
Coetzee is ‘n gr10 leerder van Hoërskool Merensky.
Twee en sestig bestellings later en ‘n suksesvolle skou agter die rug, bedank Johan en sy ouers almal van oor die hele gemeenskap wat bestellings geplaas het.
Lees: TZANEEN: Die varke in Johan se verhaal staan gereed vir broodbak
Alhoewel hy nie enige plek gekry het met sy bok tydens die skou nie, vertel hy dat hy dit nogtans baie geniet het en dat dit ‘n belewenis was.
“Die bestellings het alle verwagtinge oortref, baie dankie aan almal en LETABA HERALD wat dit vir my moontlik gemaak het,” het die jong man vertel. Indien daar persone is wat nog belangstel om varkies by hom te bestel, skakel gerus vir Annerien Coetzee op 082 417 7231.
Lees: OPVOLG: Varke wat brode kan bak en pikante roosters het twee by skou!
Kersfees is om die draai, en by nader ondersoek kan hierdie die ideale geskenk wees vir daai braai-mal familielid of vir pa. En dit wil voorkom asof die oondtjie meer as net brood kan bak.
Om ‘n vleisie of vissie in hom te rook, lyk ook moontlik.
LETABA HERALD steek die kole aan, die varkie moet ingewy word. Dankie vir die geskenk Johan. Dit was ‘n plesier om jou besigheidsvernuf weekliks te volg.