TZANEEN: Inwoners wag lip-aflek-lekker vir dié ‘Taste of Life’
‘n Sosiale-media inskrywing het soos ‘n veldbrand versprei met die nuus dat die gewilde gesins-restaurant waarskynlik Maartmaand weer sy deure in Tzaneen gaan oopmaak.
Aanhangers van Spur se monde het die naweek begin water nadat dit amptelik bevestig is dat diè gewilde restaurant-groep binnekort weer sy gesogte braaigeregte in Tzaneen gaan bedien.
‘n Sosiale-media inskrywing het soos ‘n veldbrand versprei met die nuus dat die gewilde gesins-restaurant waarskynlik Maartmaand weer sy deure in Tzaneen gaan oopmaak.
Read: Local restaurant to set sail under new flag
Na wat verneem word, sal die restaurant sake bedryf naby die skougronde waar die ou Misty River Spur geleë was in Agathastraat 103A.
‘Die presiese datum is nog nie bekend wanneer die Tzaneen-tak sy deure gaan oopmaak nie, maar die beplanning is vir Maart vanjaar,” het Coceka Ngxogwa van Spur aan die HERALD bevestig.
Dit is in die stadium onbekend wie die nuwe eienaars is wat weer die vlagskip gaan laat seil in Tzaneen.
“Ek sal die areabestuurder vra om op julle navrae te reageer,” het Ngxogwa gesê.
Die Misty River Spur het verlede jaar sy deure finaal toegetrek na ‘n wolk van omstredenheid en ‘n string onbetaalde personeel en verskaffers wat die nalatenskap was van die Nguni Grill, voorheen ook Spur en Captain Dorego in Tzaneen.
Daar was toe herhaaldelik beweer dat die nasionale boikotaksie teen die Spur sy ondergang bewerkstellig het.
Read: TZANEEN: Company still has the same taste for life
Letaba Herald kon toe eksklusief berig dat dit ‘n versinsel was, en dat die Spur-groep inderdaad hulle kontrak met die eienaar, Nick Englezakis, gekanselleer het.
Hy is verbied om enigsings onder die Spur handelsnaam besigheid te bedryf. Intussen is dit water onder die brug, en sien inwoners met groot opgewondeheid uit na die nuwe eienaars, vriendelike personeel en natuurlik die vleisroosters wat weer daardie perfekte kruisskyf, tradisionele uieringe en kraakvars skyfies gaan bedien.
Die Spur was ook in die verlede ‘n oase vir talle toeriste op die R71 na die Nasionale Krugerwildtuin, Eiland of Mosambiek.
Dit is mos nou weer ‘A Taste for life,’ wat baie Tzaneeners nie voor kan wag nie.
Hou die HERALD se webtuiste dop vir meer inligting.
Intussen is baie inwoners vol hoop dat die munisipaliteit binnekort met die herbou van die toerisme inligtingsentrum sal begin. Die sentrum het ‘n groot leemte gelaat nadat dit afgebrand het en is tans net ‘n seer oog by die ingang van die dorp.
Letaba Herald het ‘n navraag hieroor aan die GTM se woordvoerder, Neville Ndlala gerig maar wag nou reeds’n week vir terugvoering.



