Local newsNews

GTM se oortyd-tameletjie

Die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) het die afgelope sewe jaar tot en met hede, R211 miljoen aan oortyd bestee.

Dít volgens ‘n verslag wat deur die waarnemende direkteur van korporatiewe dienste, Winnie Baloyi opgestel en voorgelê is aan ‘n gesamentlike portefeulje-komiteevergadering waarop raadslede van alle partye dien. Daar is in Mei vanjaar R3,7 miljoen spandeer aan oortyd. Die totaal vir die 2021/2022 jaar wat van Julie 2021 tot einde Junie 2022 strek is daar tot dusver R26,8 miljoen spandeer aan oortyd.

Volgens die verslag word die meeste oortyd hoofsaaklik aan werknemers in die elektriese ingenieurs-, ingenieursdienste- en die gemeenskapsdienste-afdelings betaal. Die verslag dui ook aan dat meer as 60% van werknemers by die GTM oortyd ontvang en dat ‘n minimum van 47 tot maksimum 253 werknemers meer as 40 ure oortyd elke maand eis. In een geval het ‘n werknemer in November verlede jaar 194 ure oortyd geëis.

“Die bedrag wat ons op oortyd spandeer is te hoog, maar ons benodig werknemers met spesiale vaardighede, soos elektrisiëns, wat duur is. “Ons word ook beperk tot 35% van die totale begroting vir salarisse,” sê GTM woordvoerder, Neville Ndlala. “Die oortydbesteding is ‘n ernstige bekommernis vir beide die politieke leierskap en die bestuur van die GTM. Die politieke leierskap het bestuur die opdrag gegee om dringend daaraan aandag te gee,” sê Ndladla.

Also read: GTM budgets R1.6 billion for 2022/2023

Dit wil voorkom asof die oortydbetalingskoste deels ‘n indiensnemingsprobleem is by die GTM siende dat sowat 30% van alle poste nie gevul is nie. “Die oorspronklike organogram maak voorsiening vir 1141 poste, ons het dit hersien na ongeveer 900 poste, maar tans is daar slegs 668 werknemers indiens by die munisipaliteit,” verduidelik Ndlala. Ndlala het bygevoeg dat die einste verslag opgestel is met die oogmerk om oortydkostes te verminder en dat strategieë uitgebrei en geïmplementeer moet word.

“Die uitvoerende bestuur het verskeie besluite geneem om oortydbesteding te bekamp. “‘n Interne oudit sal ‘n ondersoek na oormatige oortydsbesteding doen en aan die uitvoerende bestuur rapporteer. Alle beplande oortyd moet nou vooraf deur die munisipale bestuurder goedgekeur word, opsporingstoestelle moet in munisipale voertuie geïnstalleer word, onder andere. Ons hoop om alreeds hierdie maand ‘n vermindering in oortydbesteding te sien,” sê Ndlala.

André Moss, VF Plus-raadslid in Tzaneen sê: “Die VF Plus veroordeel ten sterkste die misbruik van oortydbetalings aan werknemers van die GTM en die aanhoudende uitbetalings aan ‘n selektiewe groep werknemers wat dit nou ‘n lewenswyse en leefstyl gemaak het om oortyd op ‘n gereelde basis te eis. “Ons vra vir ‘n dringende ondersoek na betalings en onmiddellike staking van oortyd aan werknemers wat dit vir selfverryking aanwend en vra dat die bestuur van die relevante departemente dit strenger sal beheer en monitor.

“Die belastingbetalers gaan gebuk onder hoë lewenskoste en brandstofkostes en kan nie nog verder die verkwisting van geld, wat eerder vir dienslewering aangewend moet word, ook nog verder regverdig nie.” Solly Malatsi, die Demokratiese Alliansie se politieke hoof in die Mopani-streek sê dat vakante poste gevul moet word. “Die regte ding om te doen is om oortydure te beperk en vakante poste te vul, met genoeg personeel met die nodige vaardighede sal die oortollige oortydbesteding bekamp word.

“Daar moet toegeslaan word op die werknemers wat die oortydsisteem misbruik vir persoonlike gewin,” sê Malatsi.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Anwen Mojela

Anwen Mojela is a journalist at the Letaba Herald. She graduated with an Advanced Diploma in Journalism at the Tshwane University of Technology. Including an internship and freelancing, Anwen has four years’ experience in the field and has been a permanent name in the Herald for nearly three years. Anwen’s career highlights include a water corruption investigative story when she was an intern and delving into wildlife and nature conservation. “I became a journalist mainly to be the voice of the voiceless, especially working for a community newspaper. Helping with the bit that I can, makes choosing journalism worth it.

Related Articles

Back to top button