Tzaneen gaan gebuk onder waterbeleg
Albei die twee watersuiweringsaanlegte wat water aan Tzaneendorp voorsien, die Georges Valley- en Tzaneendamaanlegte, gaan gebuk onder probleme.

Die rouwater-inlaatpyp by die Georges Valley-aanleg lek en die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) sê herstelwerk aan die pyp kon nog nie plaasvind nie weens die swaar reën die afgelope weke. “Ons kon tot dusver nie grawe om by die pyp uit te kom om dit te herstel nie,” het Neville Ndlala, woordvoerder van die GTM Dinsdag aan die Herald gesê. Dinsdagaand het die GTM egter ‘n kennisgewing uitgereik dat die Georges Valley-aanleg Woensdag gesluit sou word vir herstelwerk.
Hulle het gesê dat daar twee groot lekke in die rouwaterpyplyn is en sou tussen 07:30 en 17:00 gesluit wees. Hulle het gewaarsku dat Aqua Park, Flora Park, Tzangeni, Golden Acres, Letaba River Estate, New Industrial Area, Premier Park en dele van Arbor Park tekorte sou ervaar. Ndlala het gesê dat die Georges Valley-aanleg ‘n 120 liter per sekonde kapasiteit het, maar dat hulle tans net 98 liter per sekonde pomp. “Omdat ons minder water kan pomp, lei dit tot watertekorte.” Hy sê verder dat die Tzaneendam-aanleg nie geïsoleer is van beurtkrag
nie, maar dat daar wel ‘n kragopwekker is.
Volgens hom het die kragopwekker by dié aanleg in die laaste dae probleme gegee en kon hulle nie water pomp tydens beurtkrag nie. Hy het Dinsdag gesê dat daar Maandagnag slegs water na die Ben Vorsteropgaartenk gepomp is en nie na die Aqua Park-opgaartenk nie wat weer tot tekorte in Aqua Park gelei het. Hy het gesê dat sodra die kragopwekker herstel is, sal hulle deurgaans water na Aqua Park kan pomp. “Ons gaan ook die toevoer na die twee opgaartenke balanseer sodat ons water in die Aqua Park-tenk kan kry.”
Lees ook: Water ‘poachers’ anger residents
Hy het ook bevestig dat ‘n kennisgewing deur die GTM op 27 Januarie dat hulle opgaartenke saans vanaf 21:00 tot 04:00 soggens toemaak sodat die tenks kan volloop, steeds geld tot verdere kennisgewing. Foutrapporterings op die WhatsApp-groep, Water Faults – GTM, weerspieël inwoners se frustrasie en ‘n groter omvang van die probleem. Die daaglikse aanmeldings het in die laaste weke eksponensioneel gegroei. Een inwoner wat in Arbor Park woon het aan die Herald gesê dat as dit nie was vir sy drukpomp en Jojo-watertenk by die huis, sou hy omtrent altyd sonder water gewees het.
“Hier, veral in die hoër liggende gebiede, is ons elke dag vir ‘n paar uur nooit water nie ondanks of die watertenks vol is of nie.” André Moss van die VF Plus, ‘n proporsionele GTM-raadslid, het aan die Herald gesê dat tydens ‘n vergadering verlede Vrydag het die Mopanidistriksmunisipaliteit erken dat die verouderde infrastruktuur ‘n groot oorsaak is. Moss het gesê dat daar sedert 1994 nog nooit uitbreidings aangebring is nie ten spyte van groot nuwe ontwikkelings.



