Local news

Larries in rou na dood van mamma

Die gemeenskap van Tzaneen is steeds geskok na die skielike afsterwe van Lizelle Stoltz (36) verlede Dinsdagaand op pad terug van ‘n skolesporttoernooi.

Lizelle is op slag in ‘n motorongeluk dood nadat die gesin op pad terug was na Tzaneen van Camp Discovery buite Pretoria waar die Super 12-laerskolerugbytoernooi se halfeindstryde en eindstryde plaasgevind het. Die ongeluk het ongeveer 18:00 op die N1-pad sowat 20km voor Polokwane plaasgevind. Die gesin se Toyota Fortuner het met ‘n vragmotor gebots.

Haar man, Corné, seuns, Gian (10), Luvan (7) en Ruben de Wet, ‘n spanmaat van Gian, het ligte beserings opgedoen en is by Limpopo Mediclinic behandel. Die egpaar se ses maande oue baba, Walru, het geen beserings opgedoen nie. Lizelle was ‘n vurige ondersteuner van skolesport en was bekend as Tzaneen se TikTok-mamma.

Lees ook: Hoedspruit mourns beloved resident

Haar video’s het groot aanhang op dié sosialemediaplatform geniet. “Dit is met leedwese dat Laerskool Tzaneen verneem het van die afsterwe van Lizelle Stoltz, ‘n ouer van ons skool. Ons sal Lizelle onthou as ‘n dinamiese, saggeaarde en hulpvaardige vrou. Jy was altyd langs die rugbyveld en het die seuns aangemoedig. Jy was die “cool” mamma vir Gian, Luvan en Walru. Ons dink aan Corné, seuns en familie in hierdie moeilike tyd,” het Willes Steenkamp, hoof van Laerskool Tzaneen, gesê.

Volgens hom is daar gereël om aan leerders by die skool traumaberading te gee. Medelye en boodskappe van ondersteuning het van oral vir Laerskool Tzaneen en die Stoltz-familie ingestroom met plaaslike laerskole wat ook hul simpatie en medelye betoon het.

Lees ook: Diane needs money for treatment

Die familie het die gemeenskap van Tzaneen vir hulle ondersteuning in die moeilike tyd bedank, onder andere die ouers van Laerskool Tzaneen wat omgedraai het om op die ongelukstoneel te help en die gesin by die hospitaal bygestaan het. Hulle het ook elkeen wat vir die gesin etes gestuur het en gesorg het dat daar na die kinders se behoeftes omgesien word, bedank. Lizelle se lewensviering sal Vrydag, 19 April om 11:00 by Rabbit Moon op Tzaneen plaasvind.

Related Articles

 
Back to top button