Kruispad-projek help baie
Kruispad AGS Kerk op Tzaneen sal op 18 Mei behoeftige gesinne op die dorp bystaan met ‘n sak kruideniersware en noodsaaklikhede tydens hulle jaarlikse Straatkafeeprojek.

Hannes Steyn, prediker by Kruispad, doen ‘n beroep op inwoners om die kerk by te staan met hierdie liefdadigheidsprojek. “Ons bedryf die projek elke jaar en met groot sukses. “Ons vra vir bydraes bestaande uit ‘n sak kruideniersware ter waarde van sowat R250 elk,” sê Steyn.
Steyn sê dat die projek in 2015 afgeskop het en dat die kerk die Straatkafee-projek doen in plaas van ‘n kerkbasaar. Elke behoeftige gesin kry ‘n item van die ‘tombola tafel’ vir hul huis, ‘n sak kruideniersware asook ‘n sak vars produkte wat deur plaaslike boere geskenk word. “Ons het in die verlede op een Saterdag soveel as 1400 mense en gesinne gehelp op die manier.
Lees ook: Makhoma ontvang eredoktersgraad
“Dit is soos ‘n basaar, maar niemand koop iets nie, al die items is gratis vir die behoeftige mense in ons gemeenskap,” sê Steyn. Elke sak kruideniersware moet twee blikkies groente, 2.5kgmieliemeel, 1kg-suiker, vier pakkies 50g-soppoeier, een pakkie met 12 blokkies biefaftreksel, een pakkie Baker’s Topper-koekies, een rol toiletpapier, een pakkie tee, 500g Sunlight-koekieseep, een pakkie 400g Imana-soja-maalvleis en een materiaalsak om die kruideniersware in te verpak.
Die pakkies kan by Herofield by 48 Adshadestraat op Tzaneen van Maandae tot Vrydae of Sondae na die diens afgelewer word. Daar word gevra dat daar nie ekstra items in die sakke gesit word nie, koop eerder twee sakke se kruideniersware. Skakel Steyn by 082 309 8335.