Aqua Park aanval: Sakevrou oorleef
“Ongeveer 21:00 is ek bed toe en het gelê en lees met die ligte aan toe ek skielik ‘n slag hoor wat soos ‘n ontploffing klink.”
TZANEEN – ‘n Plaaslike sakevrou, Sarie Vermaak, het verlede week ‘n rooftog in haar huis oorleef nadat ‘n booswig die venster in haar slaapkamer met ‘n stomp uitgeslaan het terwyl sy in die bed was.
Sarie vertel dat sy verlede Donderdagaand, 27 Februarie alleen tuis was by hul woning in Aqualaan. Haar man Stoffel, was in Pretoria.
“Ongeveer 21:00 is ek bed toe en het gelê en lees met die ligte aan toe ek skielik ‘n slag hoor wat soos ‘n ontploffing klink,” vertel Sarie.
“Met die slag bars die inbreker deur die enigste groot venster in die huis wat nie diefwering het nie, ons hoofslaapkamer. ‘n Mens dink nooit dit sal met jou gebeur nie,” vertel sy.
“Ek was gelukkig aan die ander kant van die bed gewees en het opgespring en met my selfoon en my beursie in my hand gehardloop. Ek kon die deur na my slaapkamer oopsluit, maar het nie tyd gehad om die hek agter my te sluit nie.” vertel sy.
“Ek probeer toe die deur se handvatsale ophou sodat hy dit nie kan oopmaak nie, maar hy het dit met brute krag oop geforseer en druk my agter teen die deur vas. Hy het ‘n mes gehad en het dit met sy regterhand teen my keel gedruk,” sê sy.
“Ek het verskriklik geskree en hy het net heeltyd gesê, “Shut up. Shut up, why are you shouting?” Hy het my arm gedraai en die armbande om my gewrig platgedruk totdat ek my beursie laat val het. Toe hy die beursie het, het ek losgebreek en by die gang af na die waskamer gehardloop om my huishulp, wat ook op die perseel woon, deur die ventster te roep. Hy het agter my aangehardloop terwyl ek heeltyd geskreeu het.”
Sy vertel dat in die kombuis het die booswig haar handsak gewaar. “Daar was nie veel van belang in nie, maar hy het seker gedink hy het die jackpot geslaan. Hy het my handsak gegryp en weer deur die gebreekte ruit uitgespring. My huishulp het my seun gebel vir hulp.”
Sarie sê die ruit wat hy gebreek het is ‘n groot soliede venster. “Al ons ander ruite is kleiner met diefwering. Jy kan duidelik sien waar hy het aan die diefwering gehang het en hoe hy die ruit met ‘n dik stomp stukkend geslaan het.”
Volgens Sarie was haar seun teen 21:30 by haar en was lede van die Tzaneen Gemeenskapspolisiëringsforum en plaaslike seukriteitsmaatskappye ook spoedig op die toneel.
Sy sê dat die polisie was teen 23:30 op die toneel en dat sy ligte beserings opgedoen het. “‘n Paar bloukolle en snye, en my arm was seer waar hy dit gewring het. Ek is gelukkig en ek is so dankbaar vir die Here se genade, Hy het sy hand oor my gehou en ek is eintlik ongeskonde,” sê sy.
Sarie beweer dat sy seker is dat die inbreker dieselfde man is wat al drie keer vantevore by hul huis ingebreek het.
“Dit is die eerste keer wat die spesifieke inbreker gewelddadig geraak het en ‘n ruit gebreek het, hy klim gewoontlik net deur klein gate in,” sê sy.
Sy beskryf die inbreker as ‘n lang, maer man. “Hy het donker skinny jeans aangehad, donkerblou opritsbaadjie en ‘n gebreide balaklava. Net sy neus en oë het uitgesteek, hy het sulke dowwe oë gehad, soos iemand wat op dwelms is.”
Sarie is die eienaar van onder andere Arbor Park Lodge en Makarios Makelaars. Sy sê dat die Tzaneense polisie die saak ondersoek.
Die Herald het na kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, vir kommentaar uitgereik, maar het teen druktyd Dinsdag geen terugvoer ontvang nie.



