Local news

Plasies dink op hul voete

Plasieland sal Limpopo verteenwoordig by die nasionale eindstryd, waar die land se skole sal meeding om te bepaal wie die nasionale debatsbeker huis toe neem.

TZANEEN – Merensky Landbou Akademie het op Vrydag, 5 September, hul kultuurskoene aangetrek en kragte gemeet teen die Limpopo-skole tydens Dink of Sink, ‘n kompetisie waar debatvoerders se impromptu dink- en redeneervermoë tot die uiterste beproef word.

Toeskouers het op die punte van hul stoele gesit in die hoop dat hul gunstelingspan vinnig genoeg sou dink om nie te sink nie.

Junior- en seniordebatspanne van hoërskole Ben Vorster, Louis Trichardt, Pietersburg, Frikkie Meyer en Merensky Landbou Akademie het sake in die Limpopo-streeksuitdunne uitgespook. Plasieland se junior span (Ilana Lubbe, Miané van Veelen en Milan Ferreira) is as wenners gekroon, terwyl een van Ben Vorster se junior spanne as naaswenners uit die praatstryd getree het.

By die seniors was dit Eddie Mostert, Jean de Wet en Luzaan Erasmus wat met die wenbeker weggestap het, nadat hulle teen Frikkie Meyer te staan gekom het. Die seniors moes debatteer oor “Tegnologiese betaaltoepassings moet kontant- en kaartbetalings vervang”, terwyl die juniors moes koppe bymekaar sit oor “Moedertaalonderrig behoort ‘n prioriteit in skole te wees”.

Die formaat van hierdie gewilde kompetisie, wat deur AfriForum aangebied word, bepaal dat spanne ‘n aktuele onderwerp ontvang waaroor hulle vurig moet debatteer. Met slegs vyf minute voorbereidingstyd en ‘n sewe minute kruisverhoor na afloop van elke spreker se beurt, word vasgestel wie het gedink en wie het gesink.

Plasieland sal Limpopo verteenwoordig by die nasionale eindstryd wat op 27 September in Centurion plaasvind, waar die land se skole sal meeding om te bepaal wie die nasionale debatsbeker huis toe neem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button