Agri-leerders presteer by Nasionale Jeugskou 2025
Die indrukwekkende Plasie-span, het die lang tog van meer as 1 100km aangepak om die provinsie te verteenwoordig.
TZANEEN – Leerders van Agri-Merensky het die Limpopo-span tydens die Nasionale Jeugskou 2025, wat van 3 tot 9 Oktober by die Upington Skougronde aangebied is, verteenwoordig.
Hierdie hoogtepunt op die landbouskole-kalender bring jaarliks al die provinsies se top-skouleerders, afrigters en jong landbou-entoesiaste byeen vir ‘n week van mededinging, leer en samewerking.
Die indrukwekkende Plasie-span, bestaande uit 60 leerders, tien afrigters en ‘n groot verskeidenheid diere, van vleisbeeste en boerbokke tot melkbokke, skape, hoenders, konyne en varke, het die lang tog van meer as 1 100km aangepak om die provinsie te verteenwoordig. Ten spyte van uitdagings, insluitend meer as twintig leerders wat tydens die week siek geword het, het geen Plasie moed verloor nie.

Die span is beloon met vier nasionale trofeë, waaronder Jeugskou DNA, beste biosekuriteit, Jeugskou TLC, en Jeugskou entrepreneur van die jaar.
Die Jeugskou DNA-trofee word toegeken aan die provinsie wie se leerders hul span die beste ondersteun en respek teenoor ander en beoordelaars betoon. Jeugskou TLC lê klem op diereversorging, higiëne en netheid. Wat dié prestasies besonders maak, is dat ander provinsies self vir Limpopo gestem het.

Agri-Merensky-onderwyer Arno Last het met streng nakoming van protokolle verseker dat Limpopo die beste biosekuriteit-trofee vir nog ‘n jaar kon huis toe bring, terwyl Rikus Kamffer, ‘n graad 8-leerder, as Jeugskou entrepreneur van die jaar bekroon is vir sy uitmuntende algehele prestasie.
Benewens hierdie oorwinnings het die Agri-Merensky-leerders in verskeie afdelings, waaronder vleis- en wolskape, varke, konyne, pluimvee, kulinêre kunste en fotografie, sterk vertonings gelewer.




