Tzaneen en landbougemeenskap groet Rooi Koos Coetzee
Die landbougemeenskap en Tzaneen treur oor die afsterwe van Jacobus “Rooi Koos” Coetzee, bekende avokadoboer en mentor by Westfalia Fruit.
TZANEEN – Die landbougemeenskap het met skok verneem van die nuus van Jacobus Stephanus Coetzee se afsterwe op 28 April.
Rooi Koos, soos hy onder sy vriende bekend was, is op 77-jarige ouderdom na gesondheidskomplikasies wat met hart- en nierversaking verband hou, oorlede.
Rooi Koos is op 23 Julie 1948 in Swartwater gebore en het sy skoolopleiding aan Brits Landbou Skool voltooi.
Hy is getroud met Siena en saam het hulle een seun, Riaan. Riaan is getroud met Yolandi en Rooi Koos het drie kleinkinders.
’n Lewe gewy aan landbou
Sy familie onthou hom as nederig, opreg en hardwerkend, ‘n man met ‘n liefde vir sy familie, die natuur en die boerdery.
Koos het sy lewe aan die landbou gewy en was veral bekend vir sy diep kennis van avokadoboerdery. Hy het vir baie jare by Westfalia Fruit gewerk, waar hy groot respek onder kollegas, boere en vriende geniet het. Hy het gelei met harde werk, eerlikheid en toewyding.
Hy was altyd bereid om raad te gee en sy kennis te deel, en sal onthou word vir sy sterk waardes en rustige geaardheid.
Sy nalatenskap in die avokadobedryf en by Westfalia Fruit sal voortleef deur die mense wat hy opgelei en geïnspireer het. Hy sal onthou word as ’n man van integriteit, humor en onwrikbare toewyding aan sy werk en familie.
Sy afsterwe laat ’n leemte in die harte van familie, vriende en kollegas, maar ook ’n ryk erfenis van kennis, liefde en herinneringe wat vir altyd gekoester sal word.
Huldeblyke stroom in
‘n Voormalige kollega, Duncan Smith, onthou Rooi Koos as sy mentor.
“Dit was met groot hartseer toe ek van Koos se afsterwe verneem. Hy was een van die groot karakters by Westfalia. Hy het dit maklik gemaak om die werk te leer en was baie aangenaam. Hy was altyd geduldig en bereid om ons te lei. Ek sal hom onthou as ‘n uitstaande avokadoboer, iemand wat herineringe gemaak het, lojaal en hardwerkend en ‘n goeie vriend. ”
Behalwe vir Siena, Riaan, Yolandi en die kinders, word hy ook oorleef deur sy broer, Van Eyk Coetzee en sy susters, Henriëtte Joubert en Beatrice van der Merwe.
Die gedenkdiens het op 7 Mei by die AP Kerk Tzaneen plaasgevind en is waargeneem deur ds. Aubrey Hough.




