Tzaneen tiener gekroon as Miss Teen Universe South Africa
Elsje van Eck het in gr. 9 met modelklasse begin en besit nou Vogue Catwalk Models SA se Tzaneen- en Letsitele-takke, waar sy ander meisies se selfvertroue wil bou.
TZANEEN – Vir Elsje van Eck (18), ‘n leerder aan Hoërskool Merensky, is modelwerk veel meer as net ‘n mooi rok en ‘n kroon.
Die jong Tzaneense model het die afgelope naweek drie skoonheidstitels verower. Sy het die Miss Teen Universe South Africa 2026-titel verower, is as eerste prinses aangewys in die Miss Teen SA en tweede prinses in Miss Junior Supreme.
Van belangstelling tot passie
Van Eck se modelreis het in gr. 9 begin toe sy by ‘n modelklas aangesluit het om te sien waaroor die bedryf gaan. Wat aanvanklik net ‘n belangstelling was, het mettertyd in ‘n passie en ‘n loopbaan ontwikkel.
Aan die begin van vanjaar het sy by Vogue Catwalk Models SA in Tzaneen aangesluit, waar sy onder leiding van haar afrigter, Dries Koekemoer, haar vaardighede verder ontwikkel het.
Koekemoer het egter meer in Van Eck raakgesien as net ‘n belowende model. Hy het haar aangemoedig om self ‘n afrigter te word.
“Ek het vir hom gelag. Ek het glad nie gedink ek kan ’n coach wees nie. Ek het gedink: Wie is ek om ander meisies te leer?” vertel Van Eck.
Nou ook modelafrigter en eienaar
Vandag is sy nie net ‘n model en afrigter nie, maar ook die eienaar van Vogue Catwalk Models SA se Tzaneen- en Letsitele-takke. Sy rig haar eie modelle af en ontvang steeds opleiding by Koekemoer in Phalaborwa.
’n Inspirasie vir ander meisies
Haar jongste prestasie, die Miss Teen Universe South Africa 2026-titel, is volgens Van Eck nie net ‘n persoonlike prestasie nie, maar ook ‘n geleentheid om ander jong meisies te inspireer.
“Ek wil vir daardie meisies wys dat jou beginpunt nie jou eindbestemming bepaal nie,” sê sy.

Van Eck wil haar modelklasse verder uitbrei en meer meisies die geleentheid gee om selfvertroue te ontwikkel en hul potensiaal te ontdek.
Drome vir die toekoms
Sy beplan om ná skool haar modelwerk voort te gaan en droom ook daarvan om eendag haar eie haarsalon te open.
Vir Van Eck lê die waarde van haar reis nie net in die titels wat sy verower het nie, maar in die invloed wat sy op ander jong meisies kan hê.
“Ek wil hê my grootste sukses moet nie wees dat ek ‘n kroon gewen het nie. Ek wil hê dit moet wees hoeveel meisies eendag kan sê: Elsje het my laat glo dat ek ook kan.”




