Vinnige optrede fnuik diefstal
Die wakker optrede van 'n plaaswerker en die samewerking van plaaslike boere op hul area se Whatsapp groep, het verlede Woensdag die diefstal van nóg 'n transformator verhoed.
Letsitele en omgewing gaan die afgelope drie maande gebukkend onder ‘n vlaag van transformator diefstalle.
Volgens Corrie Large, lid vir Veiligheid van Agri Letaba en ook lid van die Constantia Boere Vereniging, het amper 40 transformators in hierdie tydperk voete gekry, (sien elders die berig oor Agri Letaba se vergadering.) Verlede Woensdag was dit weer eens sulke tyd, hierdie keer op die grond van De Neysschen Broers Boerdery.
Volgens JJ De Neysschen, het een van sy werkers die middag in die plaasdam gaan visvang. Op die damwal is ‘n pomphuis met ‘n alarmstelsel en die transformator is aan die onderkant van die wal. Die werker het skuins voor ses opgepak en terug gekeer huis toe. Tuis het hy besef hy het sy sleutels iewers langs die pad verloor en hy het op sy eie spoor terug geloop dam toe om te soek. Naby die dam het hy onraad gemerk en hom om en by 19:30 na De Neysschen se huis gehaas om alarm te gaan maak.
Intussen het Northern Sekuriteit omtrent 19:00 vir De Neysschen gekontak en ingelig dat hul ‘n alarm vanaf die pomphuis ontvang het. Hy het dadelik op die area se Whatsapp-groep om hulp gevra. “Binne tien minute vandat ek die hulpkreet via Whatsapp uitgestuur het was die eerste bakkie by ons plaasingang. Nog tien minute later en daar was mense om te kom help, onder andere, Coenie Grobler van Large Sekuriteit, plaaslike boere en twee manne van die Letaba Buurtwag,” het De Neyscchen gesê.
Die boere het in die donker, met slegs die volmaan om hul pad te verlig, die damwal bekruip. Omtrent tien meter weg van waar die verdagtes besig was om die transformator uitmekaar te haal, het die boere hul flitsligte aangeskakel en die verdagtes het laat spat. Volgens De Neysschen het hy dit tot ‘n meter van een van die verdagtes gemaak voor hy self in digte bosse verstrengel geraak het en die verdagte ontsnap het.
Geen van die verdagtes is aangekeer nie, maar al hul gereedskap is op die toneel gevind.
Volgens JJ De Neysschen kon die plaaslike SAPD hulle nie kom help nie omdat hulle geen voertuie beskikbaar gehad het nie. Ten tyde van die voorval het Letsitele SAPD slegs twee werkende voertuie gehad en beide was elders besig. Die een was Mamitwa toe om ‘n toneel te gaan ondersoek en die ander is met gevangenes Polokwane toe.
Volgens Luitenant-Kolonel Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die Letsitele SAPD, is hulle bewus van die transformator probleem en neem hulle dit baie ernstig op. Volgens hom het die area bevelvoerder reeds al die verskillende sake se dossiere bymekaar gemaak en is hulle besig om na die verskillende sake te kyk om te sien of iemand iewers nie hul werk gedoen het nie, sowel as om ‘n plan van aksie uit te werk.
Wat die gebrek aan voertuie betref, het Ngoepe gesê dit is onaavaarbaar en sodra hy op skrif ‘n klagte ontvang sal hy optree. Volgens hom is die vlaag van transformator diefstalle ‘n baie ernstige probleem en sal hulle dit beslis nie so los nie.
“Die munisipaliteit sal ernstig daarna moet kyk om alarms of kameras by die transformators te installeer. Iets sal gedoen moet word om hierdie kriminele in hul spore te stuit,” het Corrie Large gesê.
Volgens Neville Ndlala, woordvoerder van die Groter Tzaneen Munisipaliteit, klop die getal van 36 transformators nie met die GTM se syfers nie. Hul state wys dat daar sedert Julie 2015 die totaal van 22 transformators gesteel is (dit kom neer op 5 transformators per maand).
Verder het die GTM derduisende transformators en is hulle daarom nie geldelik instaat daartoe om almal van alarms en kameras te voorsien nie.
Hy voeg ook by dat die GTM en die SAPD reeds in gesprek is met mekaar oor hierdie probleem en dat dit hopenlik binnekort tot ‘n oplossing sal lei. Ndlala vra ook vir samewerking deur die gemeenskap: “Iewers is daar mense wat weet wie hierdie misdade pleeg en ons het hulle hulp nodig om hierdie uitdaging die hoof te bied,” aldus Neville Ndlala van die GTM.



