EntertainmentLifestyle

Die Credo vir Kersfees

Ds Adriaan van Tonder van NG Wolkberg gemeente wens die gemeenskap van Tzaneen die volgende toe vir Kersfees:

’n Restaurant bo-op ’n hoë gebou het die interessante eienskap dat dit ’n volle sirkel roteer terwyl die gaste hulle maaltyd nuttig. Die gevolg is dat mens se uitsig voortdurend verander, ontvou in nuwe agtergronde wat dit inderdaad bevrydend maar ook frustrerend maak.

Dis bevrydend omdat daar altyd op die agtergrond beelde is wat die konteks voortdurend vernuwe, jou na nuwe plekke neem.

Dis frustrerend want mens se aandag word verdeel tussen die kos op jou bord, die gaste om jou tafel en die voortdurend veranderende konteks.

Dis ’n beeld van die onvermydelike lewenservaring van die voortdurende sirkelgang van verandering terwyl alles dieselfde bly. Of net miskien is dit anders om, dat alles dieselfde bly, ondanks die voortdurende verandering.

Ons staan verwonderd voor die wiegie en klaend by die oop graf, verwonderd oor die nuwe lewe en verwese oor die lewe wat weggebêre word onder grond of in ’n muur.

Maar, toemaar: Môre huil ’n nuwe kind, blaas ’n ander sy asem uit! En so gaan die sirkel stilweg aan. Sonder breuk en sonder oorgang skuifel dit voort asof in totale vergetelheid van ons wat toekyk.

Die lewe sirkel voort en tonele ontglip ons kyk. Want oog en mond moet aandag gee aan kos op ons bord, ore aan tafelgenoot wat iets wil kwyt, hand hou die glas wat ’n kelner wat oor ons leun, hervul.

Wanneer ons dan opkyk het die landskap verander – soms onverwags mooi soos in die dieprooi van pinotage in die bol van ’n glas, soms onverwags treurig soos die bleek weerkaatsende water in die hol pilaartjie van glas. Ons moet aanpas by die nuwe konteks, soms met gelate aanvaarding soos in die oë van die garnaal op ons bord, soms met uitdaging soos met die 500 gram rumpsteak onder die pepersous.

“Sunrise, sunset. Sunrise, sunset. Swiftly flow the days. Seedlings turn overnight to sunflowers, blossoming even as we gaze. Sunrise, sunset. Sunrise, sunset. Swiftly fly the years. One season following another, laden with happiness and tears” sing die koor in “Fiddler on the roof” en voltooi daarmee die sirkelgang van die draaiende restaurant, en ek vra: “Is dit al wat daar is?”

Kersfees vertel van die aankoms van die Einde van die eindelose sirkel van bestaan van sonop en sononder, Hy kom in ’n Krip,

daardie nag toe die wagters, ook die van die hemelruim, voor die Lei-Ster se

stal tot stilstand gekom het. So dertig wat jaar later toe die son struikel en verdoof word deur die Kruis midde-in die sirkel van kykers, wat aan sonop en sononder onderworpe is, toe sien hulle die Laaste sononder en buig onder die las van die duister wat om hulle skouers vou, wagtend vir die sirkel om van vooraf te begin.

Maar toe, op die stil Sondagmôre, breek die nuwe Big Bang saggies aan en sprei sy Lig oor die wêreld, al verder en verder tot hier by ons. ’n Nuwe sonop breek aan wat deur geen sononder ooit weer vervang kan word nie.

Die Krip neurie: “Welkom, o stille nag van vrede, onder die suiderkruis!”, die Kruis verklaar kras” “Is dit, is Dít my koning!” Die oopgerolde graf jubel dit uit: “Hy is nie híér nie – Hy het opgestaan!” Nou het ons hierdie drie: Krip en Kruis en Credo, en die Credo nooi: “Kom alle getroues, vrolik en vol vreugde, o, kom in die Gees en leef vanuit die nuwe Sonop in die krip!”

Geseënde Christusfees aan almal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button