Plasies se presidentskandidate bly besig
Vyf van Hoërskool Merensky se Presidentstoekenning-leerders het op 22 Julie begin met 'n drie-dag lange bergfietsry-avontuur in en om Tzaneen as deel van kwalifisering vir die verskeie vereistes wat die program stel.
Die tog van ongeveer 150 kilometer is aangepak deur Johan van den Heever (goud), Janke Joubert (silwer), Dezi de Jager (silwer), Shané van den Heever (silwer) en Larike Joubert (brons).
Die kandidate se deursettingsvermoë en wilskrag is sommer al op dag 1 met ‘n 60 km rit om die Tzaneen-dam en verskeie heuwelagtige plantasiepaaie getoets.
Dag 2 se roete oor sowat 60 km het van Letaba Estate, via die kanaal en treinspoorpad van Letsitele, oor Rubbervale tot in Leydsdorp gestrek waar die span kon afsaal, stof afspoel en oornag terwyl hulle die gasvryheid van die Kapiri Hills hotel geniet het.
Die laaste dag se skof van ongeveer 30 km was van Leydsdorp tot by Jakkalsroep.

Die avontuur was afgesluit met ‘n tradisionele braai en ‘n rit deur die kamp.
lees ook: Ouma ervaar inwoners se welwillendheid
Die vyf fietsryende kandidate het hul ondersteuningspan vir hul volgehoue aanmoediging bedank.
Dankbare harte Die Presidentstoekenning-leerders het bewys dat hul ook op maatskaplike gebied aktief is.
Vyf kandidate, Johan en Shané van den Heever, Larike Joubert, Keira Booth en Dezi de Jager het ‘n omgeeprojek van stapel gestuur en koekies by dosyne gebak.
165 bederfpakkies met koekies, warm sjokolade en ‘n kaartjie is verpak en aan die gesondheidswerkers by Mediclinic-hospitaal, Dr Spies en Vennote en Tropical Apteek uitgedeel.
Hoërskool Merensky sê hulle is trots om die presidentstoekenningsprogram aan te bied en wens die kandidate alles van die beste toe vir die voltooiing van hul verskeie vlakke.



