Koeie wreed doodgetrap na veediewe hulle saam op waentjie druk
Drie koeie is doodgetrap, nadat veediewe agt beeste in twee klein waentjies geprop het.

Te danke aan spanwerk tussen boere is vier verdagtes vasgetrek na ’n dramatiese hoëspoed jaagtog.
Volgens inligting het twee boere op pad werk toe, op verdagte voertuie, wat waentjies sleep, op die Winnaarspoortpad afgekom. Hulle kon daarin slaag om ’n Mazda bakkie met sleepwa af te trek, terwyl ’n silwer Isuzu bakkie sy waentjie afgehak en weggejaag het.

Die boere het vir bystand geroep, terwyl een die Isuzu agterna gesit het. Bykans 20 km verder op die Groenvleipad het die Isuzu hom in ’n padblokkade vasgery. In plaas daarvan om te stop, het die bestuurder daarvan in ’n stilstaande Landcruiser bakkie vasgejaag.
Drie verdagtes is gearresteer terwyl ’n vierde die veld in gevlug het. Hy is later by die Vleissentraal veilingskrale gearresteer.
Drie koeie is doodgetrap, een het haar been gebreek terwyl ’n ander koei nie kon opstaan nie. Die waentjies waarop daar vier koeie elk gelaai is, is ontwerp om beswaarlik twee beeste elk te vervoer.

Die beeste is by ’n boer in Badfontein, tussen Bambi en Lydenburg, gesteel.
Boere sê dat een van die verdagtes deel was van ’n groep van ses wat in April naby Nelspruit gearresteer is toe agt Senepol beeste agter in ’n Mercedes Vito paneelwa gevind is. Die beeste was in ’n haglike toestand en van hulle moes uitgesit word omdat hulle mekaar so erg vertrap het.
Boere kla dat bekende veediewe keer op keer gearresteer word, in die hof verskyn en los kom deur bloot ’n boete te betaal. Een van die verdagtes wat Woensdag gearresteer is, was na bewering vroeër die week in die hof vir ’n ander veediefstalsaak waarin hy ’n boete opgelê is.

Kapt. KC McDonald, Belfast polisiewoordvoerder, het bevestig dat vier verdagtes in aanhouding is. Sy kon nie hul name bekend maak nie, omdat hulle nog nie in die hof verskyn het nie. Sy kon ook nie bevestig of van die verdagtes in verband met die Mercedes Vito bussie arrestasie in Nelspruit verbind kon word nie.
Die Dullstroomboerevereniging, boere uit ander oorde wat kom hand bysit het, die Dullstroom polisie en Middelburg se Veediefstaleenheid word vir hul harde werk bedank.

Ander nuus:
Bestuurder van Scirocco kom na vore
Jong man sterf tien dae na ongeluk
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur [email protected]
