Hospice spog met top fasiliteite
Bydraes word gesien in mense wat deur moeilikste tyd van hulle lewens gaan
Die Middelburg Hospicevereniging het tydens ’n “waarderingsaand” hulle nuwe Plus Hospice-fasiliteite bekendgestel.
Mnr. Gerrie de Lange, voorsitter van die Middelburg Hospice Raad, het gesê die aand is aangebied “om dank en erkenning te gee aan elke donateur, vrywilliger en personeellid vir die onbaatsugtige, opregte en hartlike bydrae” wat hulle tot Middelburg Hospice lewer.

Hy het gesê sommige het finansieel gegee. “Sommige het hul tyd gegee. Sommige het hul vaardighede en kundigheid gedeel. Ander het hul hande gegee om te bou, te verf, te versier en te verbeter. Sommige het gebak, georganiseer en fondsinsamelingsgeleenthede moontlik gemaak. Sommige het sorg verskaf.

Sommige het leierskap verskaf. Maar elke bydrae, of dit nou groot of klein is, het iets betekenisvols tot die Hospies bygevoeg.

“Die resultaat daarvan sien ons nie net in geboue, voertuie of verbeterings nie.
“Ons sien dit in die versorging van terminale pasiënte wat dikwels deur die moeilikste tyd van hul lewens gaan. Met groot waardering aan Judy Toüa en Heidi da Silva.

“Ons sien dit in die troos wat families ontvang.
“Ons sien dit in die hoop, waardigheid en liefde wat elke dag hier uitgeleef word.
“En ons sien dit ook in die Middelburg-gemeenskap, wat nie uitgepraat kan raak oor wat vandag hier by Hospice bereik is nie. Ons het voorwaar nou ’n topklas fasiliteit waarop die dorp trots kan wees.

Dankie dat julle bereid is om die ekstra myl te stap. Dankie dat julle die PLUS in ons verhaal is.”
