News

Kind wat deur slang in bed gebyt is, in intensiewe eenheid

’n Kind moes gisteraand per ambulans hospitaal toe gejaag word nadat hy deur ’n Mosambiekse spoegkobra gebyt is.

Mercia Blake van Life 24 sê dat sy teen 21:45 bewus geword het van iemand wat buite haar huis in Marble Hall toeter blaas en skree.

Die man het haar op haar naam geroep en gesmeek om hulp omdat sy kind deur ’n slang gebyt is. Sy het haar na buite gehaas.

“Ek weet mens doen seker nie sulke dinge in vandag se tyd nie, maar ek kon nie anders nie.”

Me. Blake sê dat die kind (10) ’n bytmerk op sy linkervoorarm gehad het. Sy het dadelik vir Arthur Roden, ’n plaaslike slangvanger, asook ’n ambulans gebel en die kind op suurstof gesit.

Die kind se pa en mnr. Roden is terug na die huis, waar mnr. Roden die slang, wat sowat ’n meter lank was, gevang en as Mosambiekse spoegkobra geïdentifiseer het.

Me. Blake het die Life Midmed Hospitaal in Middelburg gebel en ingelig watter tipe slang die kind gebyt het en gevra of hulle die kind sal kan behandel. Plaaslike slangkenner, Vic Boshoff, is ook in kennis gestel om te help met advies.

Op pad hospitaal toe het die bytplek erg geswel en het die pasiënt gekla van erge brandpyn.

Die kind is teengif toegedien en in die intensiewe eenheid opgeneem vir waarneming.

Die kind se pa het aan www.mobserver.co.za gesê dat die hospitaal laat weet het dat sy kind stabiel is. Hy kan hom eers vanmiddag 15:00 weer besoek.

Die slang wat deur Arthur Roden gevang en as Mosambiekse spoegkobra geïdentifiseer is.

Hy sê dat sy seun gebyt is toe hy in die bed geklim het en hy vermoed dat die slang tussen die beddegoed gelê het.

“Ek weet nie hoe die slang in die huis gekom het nie. En om te dink dat my kinders die heel dag in daardie kamer gespeel het,” het hy gesê.

• Me. Blake sê dat daar nou ’n toename in slangbyte in die Groblersdal/Marble Hall area is. Daar was laas week ook ’n voorval waar iemand deur ’n Mosambiekse spoegkobra gebyt is en verlede maand moes nog ’n pasiënt Life Midmed toe gejaag word, wat deur dieselfde soort slang gebyt is.

• Sy sê dat Mosambiekse spoegkobras, swartmambas, pofadders en stilletto slange die meeste byte toedien wat hulle moet behandel.

• ’n Ander inwoner het laas week ’n kas in haar huis uitgepak nadat sy ’n rot daarin ontdek het. Haar honde het vreeslik aan die blaf gegaan.

Die vrou het skielik op ’n swartmamba afgekom en van die skrik die kas op die slang laat val. Nadat die slang verwyder is het sy agter gekom dat haar honde reeds gebyt is.

Me. Blake het die volgende wenke oor slangbyte gegee:

• Hou die bytplek hoog in die lug en kry dadelik mediese hulp.

• Moenie die bytplek sny, suig of vryf nie.

• Probeer om die slang te identifiseer omdat dit bepaal watter behandeling die slagoffer moet kry. Neem ’n foto van ’n veilige afstand af of isoleer die slang in ’n plek indien moontlik tot ’n kenner kan opdaag om dit te vang en identifiseer.

• Trek ’n kring met ’n pen of filtpen om die bytplek en neem ’n foto saam met iets soos jou mediesefondskaart of ’n vuurhoutjieboksie sodat mediese personeel later kan meet hoeveel dit geswel het.

• Oorweeg die opsie dat daar dalk meer as een bytplek is. Slange soos swartmambas het baie dun tande en die bytplekke is dikwels moeilik om op te spoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button