News

Hulp gevra na “perdefluisteraar” alles verloor in vloedwater

Machadodorp se “perdefluisteraar” Patrick John Rolfe David het Dinsdag tydens ’n reuse wolkbreuk in die area, feitlik alles verloor nadat sy houthuis langs die Elandsrivier deur vloedwater meegesleur is.

Mnr. David maak ’n bestaan deur perde, en breek hulle onder meer in vir kliënte.

Naas die houthuis waarvan die stoep en een muurpaneel heeltemal in die vloed vernietig is, het mnr. David al sy toerusting vir sy besigheid verloor.

Van die perde en selfs sy voertuig, is ook deur die vloedwater meegesleur, maar die diere is gelukkig stroomaf saam sy voertuig gevind.

Mnr. David bly saam sy vriendin, Katharina Hillebrandt, in die houthuis, waar daar ook ’n baksteenhuis en woonstel op die erf op die rivier se oewer is. Die huis en woonstel is ongedeerd.

Die paartjie het ook al hul huisinhoud soos beddens, kaste, ’n stoof en yskas in die vloed verloor. Die huis se fondasie is intussen onstabiel verklaar en die paartjie word tans elders gehuisves.

Naas huisinhoud, kos en klere, is mnr. David tans op soek na donasies sodat die perdekampe herbou kan word sodat hy sy besigheid kan voortsit, en finansieel vir sy gesin kan sorg.

Mnr. David se kinders uit ’n vorige verhouding, moes hulpeloos saam hul pa toekyk hoe al hul besitting deur die vloedwater meegesleur is.

Die kinders se ma, Anneli, sê dat hulle steeds kledingstukke, wat rivier af uitgespoel het, optel. “Gelukkig was niemand in die huis nie, want daar was bloot geen tyd om enige iets te red nie, wat nog van lewens,” vertel Anneli. Sy sê die huis was binne drie minute verwoes.

Boere van die omgewing het reeds saamgespan om die mees kritiese benodighede soos kos en warm klere te verskaf, terwyl opruimings steeds aan die gang is.

Die houthuis sal heeltemal herbou moet word.

Groot skade is ook aan die N4 aangerig waar vloedwater van die Elandsrivier oor die snelweg is.

Mense wat die gesin wil help met donasies kan Anneli David by 082 266 4364 skakel.

•Boere wat kan help met pale en draad kan hom ook kontak.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button