My eerste bergfietswedren het maar ploeg-ploeg gegaan.
Is ’n Roadie.
Iemand wat daarvan hou om met ’n padfiets op teerpaaie te jaag.
Maar toe daag Hein Koch en sy meelopers my uit om die Alzu bergfietswedren aan te durf.
Andre Brandmuller het altyd gesê “as jy eers eenkeer met ’n bergfiets in die natuur gery het, sal jy nooit weer op ’n padfiets klim nie”. Het die bergfiets by Hein gaan haal en hom by die huis parkeer.
Wedrendag die eerste keer op hom geklim. Met die wegspring gly die kettting teen die eerste bult af.
Gelukkig is ysterman Cobus Fourie by om te help.
Fietsryers snel verby. By die eerste draai jaag ek by ’n mielieland in.
Alzu se Du Toits kan maar vra as hulle iemand soek om te ploeg.
Dit is heelpad knyp-knyp, benoud-benoud. Naby die eindpunt is daar ’n klipperige afdraende.
Wil rem. Kry nie die remme nie.
Van agter kom die voorste ouens in die langer wedren aangejaag. Hulle gil “gee pad!”
Gee pad, waarheen?
Kry die ergste wipwarit van my lewe. Klou soos ’n apie aan die dikwiel.
Met groot genade kom ons hy die eindpunt aan.
Dink, “nee meneer Brandmuller, hierdie stamp-stamp, hop-hop, is nie vir my nie”.
Nou is dit drie jaar later. Jaap Beyers bel, “sien jou Vrydagoggend by Basson&Beyers Fietswinkel”.
En daar word ek weer uitgedaag. Hierdie keer die Alzu 100 myler op 25 Julie 2026.
Hy oorhandig ’n Scot aan my. ’n Scot!
My fietsrymaats is almal in vervoering oor die Scot. Vir my net nog ’n bergfiets.
’n Dikwiel soos my boetie Jan gehad het, ’n driespoed.
Fietsrymaats is lojale ouens. Bel hulle verlede week. “Ons kom haal jou, jy moet oefen met die bergfiets.”
Voor ons die veld in vaar, vertel hulle van die skokbrekers wat jy kan stel? Skokbrekers?
Waar is die pistons? “Vat hierdie lyn. As jy in die sand kom verander ratte, trap; vinniger…vinniger”. Amper soos in die Outsurance advertensie “Lika gaan vinnigerrr…”. En so word ek touwys gemaak om bergfiets te ry.
Is nou kinderlik opgewonde om die 50 myler op 25 Julie aan te durf, 100 myl is nog bietjie ver vir ’n amateur soos ek. Intussen het ons al ’n lekker bus vol fietsryers wat saam gaan trap.
Ons kort net ’n busbestuurder. As jy iets ongeloofliks wil beleef, skryf in. Klim op die bus.
Hierdie keer gaan ek nie ’n sot wees op die Scot nie.
Skryf in by https://themunga.com
