In die Observer: Middies se Gouws ’n finalis vir Afrigter van die Jaar
Middelburg Hoërskool se rugbyhoof ding mee teen ’n oud-Springbok-vleuel en Stellenberg se Batt om ’n Ruggas-toekenning.
Die week in Observer – Kry jou nuutste Observer uitgawe nou op die rakke.
Daar is gestem en die uitslae is in!
Soos gewoonlik het Middelburg se mense nie teleurgestel nie en Middelburg Hoërskool se rugbyhoof, Christiaan Gouws, is een van drie finaliste as afrigter van die jaar in die Ruggas-toekennings.
Hy is in uitgesoekte geselskap met Hoërskool Stellenberg wat vriend en vyand verras het met een na die ander top-skolespan wat voor hom gestruikel het. Stellenberg se afrigter, Divan Batt, is een van die finaliste.
Springbok vleuel Pieter Rossouw, van Hoërskool Paarl Gimnasium, is Gouws se ander mededinger.
Op die oog af moet die toekenning na Batt of Rossouw gaan, maar wanneer die drie in konteks beoordeel word, staan Gouws kop en skouers bokant die res uit. Hy het ’n span oorgeneem wat besig was om op ’n ramp af te stuur en het nie naasteby die hulpbronne of begroting van Batt en Rossouw nie.
Dat Middies oorleef het in die Bekerafdeling is ’n reuse prestasie.
Hoërskool Nelspruit is een van die finaliste as die skool wat die meeste verbeter het. Die Laevelders het onder MJ Mentz ’n skitterende seisoen beleef en skuif op na die Bekerafdeling in 2027.
’n Deskundige paneel gaan die finaliste beoordeel en die aankondiging van die wenners word op 9 Oktober gedoen.

Finaliste vir 2026:
• Skool wat die meeste verbeter het: Nelspruit, Charlie Hofmeyr, Pietersburg
• Skool van die Jaar: Paarl Gimnasium, Paul Roos, Stellenberg
• Eerste span van die Jaar: Monnas, Paarl Gimnasium, Stellenberg
• Speler van die Jaar: Ethan van Biljon, Juvan Burden en Lamla Mgedezi
• Voorspeler van die Jaar: Jacobus de Villiers, Martin van Niekerk en Stefan van der Vyver
• Agterspeler van die Jaar: Ethan van Biljon, Lamla Mgedezi en Travis Pheiffer
• Mees waardevolle speler: Jaydon Viljoen, Juvan Burden en Yanos Molnar.
