Groen-wheelies en die dilemma van die dromkrappers
Dromkrappers se daaglikse stryd om ’n bestaan te maak, plaas Middelburg-inwoners voor ’n moeilike balans tussen armoede, hulpverlening, rommel en veiligheidskwessies.
Vier boeties vertrek elke Woensdagoggend om 04:00 uit Avalon na Dennesig. Hulle staan bekend as “sakkrappers” of “dromkrappers”.
Die broers is onderskeidelik 20, 16, 10 en ses jaar oud. Hul pa is oorlede en hul ma sukkel om werk te kry.
Die blikkies wat hulle uit asdromme haal, word een vir een kleiner gekap en verkoop. Vir die broers beteken dromkrap sowat R30 per dag – en kos op die tafel.
Tussen nood en ergernis
Soos in die res van die land het dromkrappers deel van die bestaan van Middelburg-inwoners geword. Vir sommige is hulle ’n ergernis, terwyl ander dit as ’n geleentheid sien om ’n bydrae tot hongernood te maak.
Sommige inwoners los elke week oorskietkos of toebroodjies bo-op hul groen asdromme vir die dromkrappers. Ander inwoners is egter woedend wanneer hul swartsakke uitgeskeur word en afval op die sypaadjie beland.
Dromkrappers en misdaad
Van die dromkrappers word ook daarvan beskuldig dat hulle by misdaad betrokke is.
Ná die moord op Mariette Mouton (72) in Bredasdorp het inwoners dadelik na dromkrappers gewys.
Mariette is vermoor op dieselfde dag wat vullisverwydering in die dorp plaasgevind het. Die aanvaller het vermoedelik deur ’n oop agterdeur toegang tot die huis in Republiekstraat verkry terwyl haar man, Cobus (81), buite besig was om gras te sny.
Cobus het sy vrou op die slaapkamervloer aangetref toe hy gaan kyk het of sy iets wou hê om te drink.
’n Verdagte is gister in hegtenis geneem in verband met die moord. Die 32-jarige man sal vandag, 1 Oktober, in die Bredasdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en huisroof.
Volgens Suidernuus-redakteur Mathabo le Roux is dit egter nog nie bekend of die verdagte wel ’n dromkrapper was nie.
*Ronel Fick van Aerorand sê haar sekuriteitskamera het gewys hoe ’n dromkrapper in ’n boom geklim en oor haar elektriese heining gespring het. Hy het daarna die venster van die wendyhuis gebreek en items gesteel, waarna hy die heiningdrade met ’n snoeiskêr geknip het. Toe die alarm afgaan, het hy eenvoudig weggestap.
Klagtes oor rommel
Dennesig-raadslid Johann Dyason sê hy het al verskeie klagtes oor die dromkrappers ontvang. “Ons sal dit in die toekoms moet aanspreek.”
Volgens Dyason is daar inwoners wat baie gesteld is daarop om hul dromme skoon te hou. Dromkrappers skeur egter dikwels swartsakke oop, haal uit wat hulle nodig het en laat die res van die vullis in die groen asdrom.
Inwoners het ook gekla dat vullis soms uit dromme gehaal en op die sypaadjie gelos word.
Al meer dorpe tree op
Al meer dorpe begin bywette instel wat dromkrap verbied. Ironies genoeg is Bredasdorp een van die eerste dorpe wat dié week so ’n bywet afgekondig het.
