Foto’s in die tronk
Korrektiewe dienste het die week nog geen betroubare inligting bekom oor wie die prisoniers in die foto's is wat deur 'n mede-gevangene geneem is, vandaan kom nie.
Die Observer het twee weke gelede berig oor ‘n bedrogspul wat glo deur die meesterbrein uit Zonderwater gevangenis bedryf word.
Volgens die gevangene – Fanie – adverteer hy skim artikels soos sleepwaens in snuffelgidse met behulp van korrupte tronkbewaarders en families.
Belangstellendes skakel en betaal of die volle koopsom of koerierfooie net om uit te vind dat die sleepwa nie bestaan nie.
‘n Plaaslike man het R500 so verloor en Fanie het toe hy gekonfronteer is, ruiterlik erken hoe maklik dit is om mense vanuit die tronk te bedrieg en besteel.
Om sy bewerings te staaf het hy aan die klaer foto’s vanuit die tronk gestuur.
Volgens die provinsiale kommunikasiehoof, me. Sarie Peens, is die foto’s beslis in ‘n tronk geneem, maar dis moeilik om te sê waar en wanneer en of die mense op die foto’s nog in aanhouding is.
“Die ondersoek is verwys na ons interne intelligensie-been wat steeds probeer vasstel wie moontlik betrokke kan wees by die slenter,” sê me. Peens.
Sy het tydens ‘n vroeëre onderhoud erken dat dit “baie moontlik is dat die slenter wel vanuit die tronk bedryf word, hoewel gevangenes glad nie in besit van selfone mag wees nie”.
