Man verkoop erwe onwettig
Grondeienaars wat leë erwe in Laersdrift besit is salig onbewus dat hul grond intussen nuwe eienaars gekry het.
Inwoners van Laersdrift sê dat leë erwe deur ‘n ander inwoner in die omgewing, Solomon Mahlangu, opverdeel word in kleiner dele en dan vir R500 verkoop word.
Chrisna Janse van Rensburg van Middelburg besit vier erwe daar. Sy het die erwe gaan besoek en nuwe inwoners in tydelike huise daarop aangetref. Sy sê dat sy te bang was om die mense te konfronteer omdat hulle erg aggressief was. Hulle was nie te vinde vir verduidelikings dat sy die regmatige eienaar van die grond is nie.
Mev. Janse van Rensburg sê sy het ‘n saak van bedrog en betreding teen Mahlangu by die Laersdrift polisie gaan open.
Volgens inwoners in die dorp is hulle magteloos teen die tydelike vestings wat nou op die nuutgekoopte lappies grond staangemaak word.
“Ons het net eendag gesien hier word die huise opgeslaan.”
‘n Vrou, wat versoek het om anoniem te bly, sê dat sy by die Elias Mostoaledi Munisipaliteit in Groblersdal kon vasstel dat die erwe nie gehersoneer is om verkoop te word nie. Maar dit is waar dit bly.
“Almal is dit eens dat dit onwettig is. Maar niemand doen iets nie. Die man gaan maar net aan om die erwe te verkoop en ons sit magteloos en toekyk.”
•Mnr. Mahlangu het telefonies aan ‘n joernalis gesê dat hy “die koning van die gebied is.” Hy het bevestig dat hy die erwe vir R500 verkoop en beweer dat die grond aan hom behoort. Hy het enige iemand wat van hom verskil uitgedaag om hom hof toe te vat.
Kolonel Ronel Otto, provinsiale polisie woordvoerder, het bevestig dat daar ‘n saak van bedrog deur die Laerdrift polisie ondersoek word. Daar is tot op hede nog geen arrestasies gemaak nie.
Die Elias Motsoaledi Munisipaliteit het soos altyd nie voor druktyd op navrae gereageer nie.
