Crime

Drie vas oor trokbande

Drie Mosambiekers is Sondag 20 Julie 2014 in die vroeë oggendure gearresteer met die blitsige optrede deur die span van Mid-Alarms en die polisie.

Die polisie is Sondag omstreeks 03:30 na Gorogang Plant Hire in Slegtkampstraat ontbied, nadat twee trokbande en ‘n trokbattery gesteel is.

Sekurteitsoffisier Johnny Odendaal (van Mid-Alarms) was besig om patrollie te ry en het die polisievoertuig by die besigheid opgemerk.

Hy het sy ander kollegas, Jean Francois en Shane van Rooyen, laat weet van die diefstal en dat hulle op die uitkyk moet wees vir verdagtes.

Mnr. Van Rooyen het kort hierna ‘n verdagte bakkie onder bome naby die treinspoor (Verdoornstraat) opgemerk.

Hy het afgery soontoe en twee mense in die bakkie gesien sit. ‘n Entjie verder, by die treinspoor, het hy ‘n selfoonliggie opgemerk en besef dat ‘n derde persoon daar staan.

Die oomblik toe die groep hom opmerk, het die persoon naby die treinspoor na die bakkie onder die bome gehardloop, in die voertuig gespring en die voertuig het begin wegjaag.

Mnr. Van Rooyen het hulle agterna gesit en mnr. Odendaal gevra dat hy die polisie moet kontak. Mnr. Odendaal het die polisielede by die Caltex vulstasie opgemerk en hulle van die jaagtog in kennis gestel. Hyself en die polisie het in die rigting gejaag waarheen mnr. Van Rooyen beduie het.

Mnre. Shane van Rooyen en Jonny Odendaal (sekuriteitsbeamptes van Mid-Alarms) wat die trokbande en -battery wat by Gorogang Plant Hire gesteel is, teruggevind het.
Mnre. Shane van Rooyen en Jonny Odendaal (sekuriteitsbeamptes van Mid-Alarms) wat die trokbande en -battery wat by Gorogang Plant Hire gesteel is, teruggevind het.

In Tswelopele-straat (naby die Mann geboue) het die groep die bakkie afgetrek en die polisie het die voertuig deursoek.

‘n Pyp en ‘n moersleutel waarmee trokwiele losgemaak word, is in die voertuig gekry.

Mnr. Francois het by die polisie agtergebly, waarop mnre. Odendaal en Van Rooyen terug is na die area waar die bakkie kort vantevore naby die treinspoor gesien is. Hulle het die gebied te voet gefynkam en binne ‘n kort bestek tussen die bome die twee trokwiele en -battery gevind.

Die polisie is gekontak, wat hulle by die toneel ontmoet en die drie Mosambiekers ondervra het. Na wat verneem word is daar bekentenisse op die toneel gemaak.

• Ricardo Mhula (35), Anadino Nhasun (34) en Neyan Mperebe (29) het Maandag in die hof verskyn. ‘n Klagte van diefstal word ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button