VIDEO: Vermeende trokwieldief vas
'n Vermeende trokwieldief is vasgetrek, maar sy makkers het ontsnap na 'n jaagtog met die polisie en 'n ongeluk waar vier mense beseer is.
Die verdagte is op die Stoffbergpad net buite Middelburg te voet deur lede van die Kanonkop/Dennesig/Middedorp en polisielede van die
berede-eenheid vasgetrek. Nog twee verdagtes het met ‘n bakkie gevlug. Op die Motetemapad (sowat 10km buite Groblersdal) het die booswigte op ‘n sperstreep verbygesteek en trompop gebots met aankomende verkeer. Vier mense is ernstig beseer in die Corolla en Polo wat getref is.
Die verdagtes het uit die voertuig gespring en weggehol.
Die gebeure het sy aanloop al vroeg die oggend gehad toe trokdrywer Trevor Bhanabho en sy assistent, Shingai Mukomeka, omstreeks 03:00 besluit het om in Middelburg oor te slaap. Hy het ‘n entjie bokant die nuwe verkeerslig in Meyerstraat die trok omstreeks 21:30 Dinsdagaand gestop.
In die vroeë oggendure het mnr. Bhanabho wakker geword en besluit om die pad verder te vat na Jane Furse.
Teen die opdraende (tussen Kanonkop en die Keerompad) het hy ‘n harde skuurgeluid gehoor en gedink dat een van die bande dalk gebars het. Hy het tot oor die bult tot op gelykpad beweeg en gestop. Met ondersoek het hy gesien dat twee trokwiele afgesteel is terwyl hulle geslaap het.
Terwyl hy aan die een kant die skade bekyk het, het die booswigte aan die anderkant nog twee wiele afgesteel en was die trok heeltemal gestrand in die middel van die pad.
Hy het mnr. Willem Fourie (eienaar van Masdevalia Investment trokvloot) laat weet en is die polisie gekontak. Tydens die soektog het die Kanonkop/Dennesig/Middedorp radiogroep ook van die drama verneem en saam begin soek na die verdagtes.
Die groep het deur middel van spore agtergekom dat die booswigte op twee plekke aan die oorkant van die pad die drade platgestoot en die wiele deur een van die plase gestoot het.
Sowat twee kilometer verby Renosterstraat is verdagtes opgemerk wat besig was om trokbande agter op ‘n bakkie te laai.
Die oomblik toe hulle die polisie en radiogroep sien, het twee die hasepad die veld in gekies. Die ander twee het met die bakkie gevlug.
Binne ‘n kort bestek is een van die verdagtes in die veld platgetrek. Sy makker het egter weggekom.
Lede van die berede-eenheid, wat oppad was werk toe, het omgedraai en by die jaagtog aangesluit, waarna die jaagtog in die ongeluk geëindig het.
Drie van die vier trokwiele is teruggekry. Mnr. Fourie sê daar is egter duisende rande se skade aan van die aste van die trok aangerig, omdat mnr. Bhanabho onwetend sonder die wiele gery het.
• Die trok was met ‘n vrag teëls vanaf Bronkhorstspruit na Jane Furse onderweg.
• Die verdagte se naam kan nog nie gepubliseer word nie, want hy het nog nie in die hof verskyn nie.
• Drie Mosambiekers is Sondag in die vroeë oggendure deur die polisie en sekuriteitsbeamptes van Mid-Alarms vasgetrek nadat daar trokbande by Gorogang Plant Hire gesteel is. Die trokbande is ook teruggevind.
