Aangerand, verkrag in plaasaanval
Die Belfast SAPD het twee mans gearresteer wat tans positief verbind word met 'n brutale plaasaanval waarin die vrou van 'n werker op 14 Julie verkrag is.
Die polisie wil tans nie presiese inligting oor die slagoffers, die plaas waar hulle aangeval is of die twee mans in aanhouding bekendmaak nie, omdat ‘n uitkenningsparade voor druktyd nog gehou moes word.
Volgens die polisie het drie mans toegeslaan op die plaas waar hulle by die werkers se huis ingebreek het.
Die eienaar van die plaas net buite Belfast, is nie hier woonagtig nie en was tydens die inbraak in Johannesburg.
Die mans het omstreeks 03:00 toegeslaan en beide die man en vrou is erg aangerand voordat die vrou na buite gesleep, en sowat 500 meter van die huis af om die beurt verkrag is.
Daarna is die paartjie van huisware beroof voordat die booswigte te voet die nag in gevlug het met die waardevolle artikels waarmee hulle kon.
Die polisie sê die slagoffers was na die voorval baie getraumatiseer en was sedertdien by familie in Phalaborwa waar hulle die gebeure probeer verwerk het.
Hulle is die week in kennis gestel van die arrestasies en sou Donderdag na druktyd ‘n uitkenningsparade bywoon omdat beide aangedui het dat hulle hul aanvallers sal kan uitken.
Sterk DNS-bewyse is na die aanval versamel wat die polisie hoop die mans naas identifikasie, positief tot die huisbraak, aanrandings en verkragting van die vrou sal verbind.
Daar word nog gesoek na die derde verdagte.
Inwoners van Belfast is onrustig, met ‘n vlaag van gewelddadige aanvalle en moorde wat dié rustige dorpie tussen Desember 2012 en April 2013 geruk het, nog vars in die geheue.
• Mnr. Daan Smit en sy gesin is op 16 Desember 2012 in hulle Belfast huis aangeval. Hy is verskeie maal deur die inbrekers met ‘n moersleutel geslaan maar kon daarin slaag om die aanvallers uit sy huis te verjaag voordat hy in ‘n plas bloed voor sy vrou en kinders in mekaar gesak het.
• Me. Bets Gouws se liggaam is einde Desember langs die Belfastdam deur haar seun gevind. Hy het op soek na haar bykans oor haar liggaam in die lang gras gestruikel. Sy is verskriklik deur haar aanvallers aangerand en verwurg.
• Oom Koffie en tannie Elna van Heerden se liggame is in Januarie 2013 in ‘n vrieskas in hul huis ontdek na ‘n huisbraak.
Beide is verwurg, oom Koffie met sy vrou se japon se gordel, en tannie Elna met een van haar eie bras.
• In April is mnr. Walkie Walkinshaw deur boewe in sy gesig geskiet. Hy en sy vrou het die bekende Belfields Bakkery bedryf en die boewe het gedurende toemaaktyd toegeslaan.
• In November 2013 is Pieter Benadie en sy Ma, Hester, bykans met plastieksakke versmoor tydens ‘n aanval by hul huis is Kraayenburgstraat. Wapens is teen beide ma en seun se koppe gehou en plastieksakke is oor hul koppe getrek in ‘n poging om hulle te dwing om geld en wapens uit te wys.
