Opvolg: Boer voorgelê
"Dis nie 'n grap om in 'n .38 Special se loop af te kyk nie. Ek het gedink julle gaan my begrawe."
‘n Boer van die Stoffberg omgewing is Woensdagnag deur rowers in sy huis op Laerdrift voorgelê.
Mnr. Ben van Rensburg (68) is in sy slaapkamer oorval, kort nadat hy vanaf Groblersdal by die huis aangekom het. Hy woon alleen.
Hy het kos in die kombuis gekry, Gé Korsten op die radio aangesit en daarna na sy slaapkamer geloop.
“Ek het ‘n klein hondjie. Ek het op my bed gelê en met hom gespeel toe daar skielik iemand langs my staan en ‘n geweer in my gesig druk.”
Die rowers het vermoedelik in die kantoor weggekruip, terwyl mnr. Van Rensburg in die huis rondbeweeg het.
In die stoeiery wat gevolg het, is hy deur een van die rowers in die oog gekap met ‘n geweerkolf.
“Ek sou tot die volgende oggend met hulle baklei het. Maar toe storm een op my af met ‘n kapmes. Toe besef ek, as ek nie nou stil lê nie gaan hulle my wraggies doodmaak.”
Drie mans, waarvan een ‘n klapmus aangehad het, het hom in suiwer Afrikaans beveel om stil te lê of sy lewe te verloor. Hulle het hom op die bed vasgedruk en met skoenveters en ‘n elektriese koord vasgebind.
Die rowers het aan mnr. Van Rensburg gesê dat hulle opsoek is na geld en wapens.
Hulle het toegang tot die kluis verkry deur die kluissleutel, wat hy om sy nek dra, by hom af te vat.
Mnr. Van Rensburg se aanvallers het die huis deursoek en tot van die vrieskaste wat gesluit was oopgebreek.
Hulle is vort met ‘n onbekende bedrag geld en vuurwapens.
Mnr. Van Rensburg het hom, nadat die rowers weg is losgewikkel en sy seun, Hennie, op die tweerigtingradio ontbied.
Boere vanuit die omgewing het deurnag na die aanvallers gesoek.
Die omgewing waarin die rowers hulself bevind het is afgesper en daar is desperaat gesoek na spoorsnyerhonde om te help om hulle vas te trek.
Die soekgeselskap het gekla dat die Laersdrift polisie se bevelvoerder, kapt. Magolo, versuim het om te luister na ‘n pleidooi om spoorsnyerhonde op die toneel te kry.
Een boer, wat nie geïdentifiseer wou word nie, het gesê dat kapt. Magolo op ‘n stadium vir hom gesê het dat daar honde oppad is maar dat hulle “van ver af kom”. Die honde het nooit opgedaag nie.
Middelburg se honde-eenheid kon nie gaan help nie omdat Stoffberg en Laersdrift nou onder Limpopo val.
Die hulp van WIPS se spoorsnyers is ingeroep, maar die spoor het Donderdagoggend doodgeloop.
Die rowers het vermoedelik na die Sango informele nedersetting gevlug.
Die aanvallers het ‘n sleutel van die huis gehad omdat daar net een deur is waarby hulle kom inkom en daar geen ander tekens van inbraak is nie.
Drie verdagtes is Donderdagoggend geïdentifiseer. Teen druktyd was daar nuus dat die polisie onderweg was om hulle te gaan aankeer vir ondervraging.
Mnr. Van Rensburg sê dat hy skaap- en varkvleis gaar gemaak het vir sy skoonma se begrafnis. Sy is verlede Saterdag oorlede.
“Die vleis is vir haar begrafnis. Maar amper het julle dit op myne geëet.”
Sy skoondogter, Rykie van Rensburg, het Donderdagoggend op Facebook gesê: “Vriendin, jy vra ek moet vir die volgende vyf dae positiewe kommentaar op Facebook sit.
Wel, myne is vanoggend: dankie dat my skoonpa nog lewe na gistraand se aanval. Dis hoe ons mos deesdae positief moet kyk na die lewe. Dankie dat niemand my in die nag probeer vermoor het nie. Dis belaglik.”
