Opvolg: Beskuldigdes lag en grap
'n Binneverhoor is tans aan die gang in die opspraakwekkende moordverhoor teen Bongani Joseph Ncongwane, Irvin Brown Nkosi en Sibusiso Charles Sibanyoni, wat verdink word van die moorde op oom Koffie en tannie Elna van Heerden, wat beide verwurg, en deur hul moordenaars in 'n vrieskas geprop is in die vroeë oggendure van 9 Januarie 2013.
Dit het verlede week aan die lig gekom, tydens die getuienis van die staatspatoloog, dr Ferdinand Blok, dat mnr. Van Heerden moontlik reeds dood was toe hy in die vrieskas gegooi is.
Volgens die patoloog het mev. Van Heerden nog geleef.
Donderdag het beskuldigde een, Ncongwane, egter toegegee dat die uitwysings en bekentenis wat hy voor ‘n senior polisieman afgelê het, vrywilliglik gedoen is en dat die dokumente en albums teen hom in die verhoor gebruik kan word.
Beskuldigde twee, Nkosi, en drie, Sibanyoni, beweer egter beide dat hulle tydens die aflê van hul verklarings, en tydens die uitwysings, aangerand en gedreig is deur die SAPD, vandaar die binneverhoor wat Donderdag na druktyd afgeskop het.
Die staat het aan die hof voorgehou dat ‘n Seiko polshorlosie van die vermoorde mnr. Van Heerden se arm verwyder is, en in besit van beskuldigde een se suster gevind is.
Mev. Van Heerden se pistool wat tydens die inbraak gesteel is, is in Nkosi se besit gevind.

Nkosi is vir ander misdrywe in Mamelodi aangekeer, en tydens sy arrestasie het hy glo van ‘n hoë muur geval, vanwaar die kneuswonde wat die staat glo gebruik sal word deur sy verdediging om te bewys dat hy aangerand is.
Tydens sy arrestasie was daar ‘n geweldige oor en weer skietery tussen hom en die polisie.
Die wapen wat by hom gekry is, is toe deur die Mamelodi polisie teruggespoor na mev. Van Heerden.
Beide mnr. en mev. Van Heerden het koorde om hul nekke gehad en hul arms en bene was ook styf met selfoonkoorde verbind.
In die hofsaal is die drie deur twee bloedjong meisies ondersteun, wat deurentyd luidkeels na die laggende beskuldigdes verwys het as “you f****** criminals”.
Nkosi het verskeie maal met twee Observer joernaliste gegrap en handtekens gewys en laggend aangedring dat die koerant hom “famous” moet maak.
Kort voor druktyd Maandag was die binneverhoor steeds aan die gang met die ondervraging van die polisielede betrokke by die afneem van verklarings, bekentenisse en uitwysings.
Die drie beskuldigdes sal na afloop van die binneverhoor, die geleentheid gebied word om te getuig.
