Crime

Man geskiet

Die poging tot moord saak teen die vrou wat haarself oorgegee het na 'n skietvoorval waar haar man in die rug gewond is, is Donderdag 07 Augustus van die rol geskrap omdat die staat nie gereed was om voort te gaan nie.

Die verhoor teen Annemarie (Antz) Mulder was op die hofrol vir Donderdag en Vrydag geplaas, maar in verrassende gebeure in die streekhof het landdros Hans Combrink die saak van die rol geskrap omdat die staat nie gereed was om voort te gaan nie.

Landdros Combrink het gesê dat hy nie sal duld dat die staat die hof se tyd mors nie en dat die beskuldigde (Mulder) geregtig is op ‘n regverdige verhoor. Hy het ‘n aantekening gemaak dat daar eers ‘n brief van die Departement van Openbare Vervolging gekry moet word, dat me. Mulder weer aangekla kan word, voordat die saak weer op die hofrol geplaas word.

Me. Mulder is aangekla vir poging tot moord na die gebeure op 2 Oktober 2013, waartydens mnr. Seef Mulder gewond is.

Die poging van moordsaak teen Annemarie (Antz) Mulder is van die rol geskrap omdat die staat nie gereed was om aan te gaan met die verhoor nie.
Die poging van moordsaak teen Annemarie (Antz) Mulder is van die rol geskrap omdat die staat nie gereed was om aan te gaan met die verhoor nie.

Mnr. Mulder is op die stoep by hul meenthuis in die rug geskiet en is vir twee weke in die intensiewe eenheid van die Midmed Hospitaal vir sy beserings behandel. Hy het ná die gebeure gesê “dat sy geskiet het om dood te skiet.”

Die aanloop tot die gebeure het hy toegeskryf aan “haar obsessiewe jaloesie” oor ‘n geruime tyd. Die betrokke aand was daar, volgens hom, weer ‘n woordewisseling oor probleme wat hulle al maande gehad het. Hy het klaarblyklik kort voordat hulle sou braai vir haar gesê dat hy wil skei.

Mnr. Mulder was nog besig om alles gereed te kry vir ‘n braai toe hy die eerste skoot hoor klap, waarop nog drie skote kort op mekaar gevolg het. Kort daarna het hy gehoor hoe die deure gesluit word en ‘n voertuig vertrek.

Mnr. Mulder het aanvanklik vooroor geval, maar was bang hy verdrink in sy eie bloed en het op sy sy gedraai. Bure het hom later hoor kerm en die opsigter laat kom, waarna hy agter die bank op die stoep in ‘n plas bloed gevind is.

Me. Mulder het haar in dié tyd aan die polisie gaan oorgee en hulle was voor die ambulans op die toneel. Mnr. Mulder is in die regterlong gewond en die are en senuwees van sy regterarm is afgeskiet. Die skietwonde is veroorsaak deur ‘n .38 rewolwer.

• Niks van hierdie inligting is egter in die hof aangehoor nie, aangesien die aanklaer, mnr. Amos Mtsweni, kort nadat die hofverrigtinge begin het, gevra het vir uitstel.

Die redes wat hy aangevoer het vir uitstel, is dat die klaer, mnr. Mulder, nie tevrede was met die verklaring wat die polisie geneem het terwyl hy in die hospitaal was nie. Hy het gesê dat hy bedwelmd was weens medikasie en dat dit nie die korrekte weergawe was nie.

Verder het mnr. Mtsweni aangevoer dat die beskuldigde (me. Mulder) Afrikaanssprekend is en dat dit ‘n probleem kan wees, aangesien hy (die aanklaer) net Engels magtig is. Hy het gesê dat daar ook nie dadelik ‘n Afrikaanse tolk beskikbaar is nie.

Me. Mulder se regsverteenwoordiger, adv. Denton Goodford, het teruggekap deur te sê dat die verdediging gereed is om aan te gaan met die verhoor. Hy het hom uitgespreek omdat die verklaring verander wil word, aangesien hulle hul verdediging voorberei het op wat in die verklaring staan.

Adv. Goodford het gesê dat die staat genoeg tyd gehad het om die veranderinge aan te bring. Hy het ook gesê dat hy en me. Mulder bereid is om die verhoor in Engels te hanteer.

Landdros Combrink het die staat oor die vingers getik en gesê dat hulle genoegsame tyd gehad het om die verklaring te verander. Die saak is al in Maartmaand uitgestel vir verhoor.

Ten opsigte van die taalkwessie het hy die aanklaer daarop gewys dat daar vier bevoegde Afrikaanse aanklaers is vir die streekhof en hom tot na middagete gegee om met een van hulle te reël om die verhoor oor te neem.

Na middagete het mnr. Mtsweni verskoning gemaak en gesê dat nie een van die Afrikaanse aanklaers beskikbaar was om aan te gaan met die verhoor nie.

Landdros Combrink het gesê dat verskeie faktore in ag geneem moet word tydens ‘n verhoor en dat die beskuldigde die reg het tot ‘n regverdige en spoedige verhoor en dat hy nie “vertragingstaktieke van die staat” sal duld nie.

Hy het gelas dat die saak van die rol geskrap word, “maar staan dit die staat vry om die saak weer te ondersoek. As gevolg van die staat se houding mag vervolging nie weer ingestel kan word, tensy daar ‘n geskrewe brief van die DOV gekry word om te vervolg nie. Dit is onaanvaarbaar dat dinge wat lankal uitgesorteer moes word, nie gedoen is nie!” het landdros Combrink gesê.

• Die Mulder-egpaar is al in Februarie hierdie jaar geskei.

• Mnr. Mulder was merkbaar oorbluf oor die gebeure en het dadelik weer ‘n afspraak met die aanklaer gemaak om uit te vind wat hom te doen staan om die saak weer voor die hof te laat dien.

• Me. Mulder het net na die gebeure Donderdagmiddag gesê: “ek voel baie verlig. Die saak kan weer terug op die rol geplaas word, indien die Direkteur van Openbare Vervolging dit goedkeur na volle oorweging van al die elemente.”

Back to top button