Man hang hom in sel
Die familie van 'n man wat die naweek dood in 'n polisiesel gevind is, het meer vrae as antwoorde oor sy selfmoord.

Familielede beweer dat mnr. Pienaar John Mills (36) hom “met sy eie skoenveters gehang het,” en vra wat hy in die selle gemaak het met sy veters?
Verdagtes wat aangehou word, se skoenveters en gordels, word by hulle afgeneem, juis om dié tipe tragedie te voorkom.
Mnr. Mills (36), se liggaam is Saterdag omstreeks 06:30 deur selmaats in die badkamer gevind, waar hy hom in die stort gehang het.
Na sy liggaam gevind is, het sy selmaats alarm gemaak.
Die familie wag vir Dinsdag se lykskouing waar hulle die patoloog sal versoek om verskeie moontlikhede te oorweeg, omdat mnr. Mills nie alleen in die sel was ten tye van sy dood nie.
Volgens ‘n familielid, wat met die Observer gepraat het, was daar geen persoonlike besittings van mnr. Mills in die polisie se register opgeteken nie.
“As die polisie sy veters en gordel afgeneem het, sou dit so in die register aangeteken wees,” sê die familielid.
Die familielid het egter toegegee dat hulle nog geen presiese antwoorde kon kry op die gebeure nie en self nog vir inligting wag.
Daar word ook beweer dat mnr. Mills hom met ‘n toutjie van ‘n sweetpakbroek opgehang het.
Hy is die dag voor sy dood by Shoprite in John Magagulastraat gearresteer vir die diefstal van haarprodukte.
