Crime

Middelburg- monsters

Agter geslote deure het 'n pa en ma van Middelburg dinge aan hul twee dogtertjies gedoen wat die Springs-monster soos die paashaas laat lyk.

Ontmoet die Middelburg-monsters, ‘n egpaar wie se identiteit nooit bekend gemaak mag word nie, omdat dit hul kinders net meer pyn en lyding sal besorg as wat hulle vir twee jaar onder die hande van hul eie ouers moes deurmaak.

Die egpaar, ‘n 31-jarige vrou en haar 39-jarge man, is verlede Donderdag, na ‘n suksesvolle saak deur staatsaanklaer Derik Rowles, deur landdros Deon Minnie skuldig bevind op onder andere aanklagte van verkragting en aanranding.

Die kinders is misbruik vandat hulle 10 tot 13 jaar oud was en vier tot sewe jaar oud.

Die man en vrou het hul swygreg uitgeoefen deur nie tydens die hofsaak te getuig nie.

Die oudste slagoffer het getuig hoe sy op haar tiende verjaardag wakker geword het met seer geslagsdele en haar pa wat langs haar lê.

Sy het getuig hoe sy haar pa een aand bo-op haar jonger sussie aangetref het. Hy was besig om haar hande met kabelbinders aan die bed se kopstuk vas te maak. Op die bedkassie het daar kondome gelê.

Haar ma was teenwoordig maar het niks gedoen om te keer nie. Sy het die kamer verlaat toe haar ma haar beveel het om dit te doen. Haar sussie het later aan haar vertel dat sy ook al hul pa bo-op die ouer sussie aangetref het.

Sy het later ook vertel dat sy een oggend wakker geword het met seer arms en kabelbinders en ‘n tang wat langs haar bed gelê het.

Volgens haar is hulle gereeld geskop, geslaan en met voorwerpe gegooi.

Beide dogters het begin om hulself te bevuil en te benat. Die ouer meisie moes agter haar jonger sussie skoonmaak en haar beddegoed en klere omruil.

“Ek vergewe julle”.

Nadat sy getuies afgelê het, het die meisie die hof versoek om haar ouers toe te spreek. Sy het aan hulle gesê: “Mamma, ek is lief vir julle en hoop julle sal my vergewe, want ek vergewe julle.”

Tydens kruisondervraging het die egpaar se regsverteenwoordiger, advokaat Jan van Rensburg, gesuggereer dat sy ‘n verhouding wat “meer as net vriendskap” behels het met die 26-jarige buurman gehad het. Sy het dit ten sterkste ontken.

Die jonger dogtertjie het getuig dat sy telkemale vir haar ma vertel het dat haar pa haar sussie misbruik en dat haar ma geantwoord het: “Ag toemaar”.

Sy het later getuig dat sy minstens tien keer gesodomiseer is en deur haar eie pa verkrag is. Die dogtertjie het vertel hoe haar ma haar en haar sussie vasgehou het, sodat haar pa hulle kan verkrag.

Die jonger dogtertjie se graad een juffrou het getuig dat sy haar na die skool se sielkundige gestuur het “omdat sy ‘n agterstand gehad het”.

Sy het ook vertel dat die dogtertjie ‘n ongaangename liggaamsreuk gehad het en amper weekliks na die klerebank moes gaan, omdat sy haarself bevuil het.

Die juffrou is op ‘n stadium deur die pa gedreig dat hy ‘n naamskending saak teen haar gaan oopmaak.

Daar is getuig dat die jonger dogtertjie van Januarie tot September in haar eerste skooljaar 21 dae afwesig was. Sy het met tye merke en snye op haar gesig gehad.

Beide meisies is deur kaptein Mara Badenhorst, ‘n forensiese maatskaplike werker, ondervra. Kapt. Badenhorst het getuig dat sy die onderhoude sonder enige vooraf kennis van die omstandighede gedoen het, sodat die verslae wat sy opgestel het bloot die weergawes van die kinders bevat.

Sy het spesifieke en nagevorsde metodes gebruik om die kinders se weergawes te bekom.

Kapt. Badenhorst is deur die hof as ‘n geloofwaardige en deskundige getuie beskou, wat die weersprekings wat die kinders in hul getuies gehad het, genoegsaam verduidelik het.

Sy het getuig dat die jongste slagoffer haarself as dom sien en dat sy oor seksuele kennis beskik wat nie vir haar ouderdom van pas is nie.

Die dogtertjie het die misbruik aan haar juffrou openbaar, omdat sy wou ontsnap en na iemand gesoek het wat vir haar sou lief wees en haar nie sou seermaak nie.

‘n Dokter van die Middelburg Hospitaal het getuig dat die jongste dogtertjie, wat op daardie stadium ses was, nie ‘n maagdevlies gehad het nie. Mnr. Van Rensburg het ter verdediging aangevoer dat daar rare gevalle was waar dogtertjies sonder ‘n maagdevlies gebore word.

Hierdie weergawe is deur die hof, na oorweging van deskundiges en navorsingsdata, verwerp en ‘n “dwaalstorie” genoem.

Landdros Minnie het gesê dat alhoewel die ouers ‘n grondwetlike reg het om te swyg, daar geen rede is waarom hulle hul pleit van onskuldig nie in die getuiebank kon staaf nie.

“Die feit dat hulle dit nie gedoen het nie, is na die hof se oordeel … versoenbaar met die gedagte dat hulle geweet het of bevrees was dat die onwaarheid van hul weergawes onder kruisverhoor aan die lig sou kom.”

Hy het verder gesê dat die afwesigheid van maagdevliese by die meisies vereenselwigbaar met penetrasie was. Daar is bevind dat die meisies geen motief kon gehad het om hul ouers vals te impliseer nie.

• Die saak is tot in Oktober uitgestel vir vonnisoplegging. Indien die egpaar aansoek wil doen vir verlof om teen die uitspraak te appelleer, sal dit dan gedoen word.

• Lewer kommentaar: Stuur die kodewoord kind, gevolg deur jou boodskap aan 37940. (Sms kos R1.50).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button