Video: Dalk kriminele klagtes
Kriminele klagtes wag dalk op die jong mans wat vir Dewald Jacobs kort voor sy selfmoord aangerand het.
Videomateriaal wys hoe die mans vir Dewald om die beurt slaan terwyl hy bly sit op die sypaadjie voor Burger Hut.
Daar kan ook duidelik op die video gesien word hoe een van die mans Dewald se selfoon optel en later daarmee wegloop.
Die Middelburg Observer het vertroulik verneem dat die jong mans nou klagtes van aanranding en diefstal in die gesig staar nadat die videomateriaal onder die oë van ‘n staatsaanklaer gekom het.
Een van die jong mans betrokke se Facebookblad is besaai met foto’s van stukkende kneukels, bebloede gesigte en gebalde vuiste.

Daar is ook verneem dat ‘n ander een vir opsetlike saakbeskadiging gearresteer is, nadat hy verlede week iemand anders se motorfiets by ‘n kroeg beskadig het.
Teen druktyd was daar nog geen amptelike klagtes gelê nie en daarom kan die verdagtes se name nie bekendgemaak word nie.
