Opvolg: Vrou kyk moordverdagtes in oë
Daar word verwag dat boere in groot getalle gaan opruk na Middelburg wanneer twee vermeende plaasmoordenaars Woensdag in die hof verskyn.
www.mobserver.co.za het met die familie oor die aanval gepraat.
“Ek het met hulle gepraat en gevra, hoekom?”
Met ‘n sterk stem probeer me. Gloudie Thomas (van Middelburg) antwoorde kry op die vrae waarmee elkeen in hul familie worstel. “Wanneer hou dit op? Hoekom moes soveel mense in één familie vermoor word?”
Haar oom, mnr. Sarel Janse van Rensburg (75), is verlede Donderdagoggend wreed op die plaas Froggy Pond Farm (Tonteldoos) vermoor.
“Ek is saam met my niggie-hulle plaas toe om hulle te ondersteun, want my ouers is twee jaar gelede net so wreed doodgemaak.”
Sy vertel dat mnr. Janse van Rensburg die oggend vir die werkers gesê het dat hy net gou huistoe gaan om koffie te drink.
Me. Thomas sê alle aanduidings is dat hy die ketel aangesit het en dat die moordenaars agter hom in die huis ingestap het. “Hulle het vroeër die oggend probeer inbreek, maar die diefwering was te sterk en toe stap hulle sommer by hom in!”
Sy vertel hoe wreed hy vermoor is. “Hy is geskiet en sy kop is inmekaar geslaan. Hy is ook oor sy gesig met ‘n yster geslaan. Oom Sarel is vermink.”
Me. Thomas het die verdagtes in die oë gaan kyk. “Ek het my hart probeer skoonmaak en aanmekaar vir hulle gevra: ‘Hoekom, hoekom, hoekom?’ Hul antwoord was net: “Sorry, it was an accident.’ Dit was ‘n wrede moord. Nie ‘n ongeluk nie!”
Oppad na mnr. Janse van Rensburg se begrafnis Woensdagoggend op Dullstroom, onthou sy die mooi oomblikke saam met hom.
“Na my ouers se moord, was oom Sarel soos ‘n pa vir my. As hy sake in Middelburg gedoen het, het hy altyd by my gestop en gesê: ‘more mooi mens, kan ek ‘n koffietjie drink? Hy was ‘n dierbare, juweel van ‘n mens.”
• Me. Thomas se ouers, Johan (77) en Gloudien Janse van Rensburg (64) is op 20 Junie 2012 op hul plaas Cosmoplite, naby Baltimore, aangeval.
Mnr. Janse van Rensburg is op ‘n kort afstand in die kamer doodgeskiet. Me. Janse van Rensburg is vier keer geskiet en het 15 dae later, op 5 Julie, aan haar beserings beswyk.
• Sy vertel dat haar kleinneef, Douw van Tonder (24), in Oktober 2002 net so wreed vermoor is op hul plaas naby Lephalale (Ellisras). “Hulle het hom soos ‘n skaap keelaf gesny!”
Die moordenaars het sy vrou, Alicia, rondgestamp, maar haar lewe is gered deur die optrede van haar vyftienjarige suster, Mari-Helene van Staden.
Mari-Helene het weggekom en oor lemmetjiesdraad geklouter om hulp te gaan soek by boere in die omgewing. Toe die moordenaars die boere se voertuie hoor, het hulle weggehardloop. Die Van Tonder egpaar was net vyf maande getroud.
• Volgens me. Thomas is haar pa en oom Sarel se ander broer, Gert, ‘n paar jaar gelede ook in verdagte omstandighede in ‘n ouetehuis dood. “Daar was sprake dat hy aangerand is.”
“Hoeveel keer moet één familie hierdeur gaan? Ek verstaan nie hierdie goed nie.”
• Kort na die moord op mnr. Sarel Janse van Rensburg is twee verdagtes in hegtenis geneem. Papiki Mokwena en Eric Mthombeni, word aangekla vir moord, menseroof, roof en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.





