Opvolg: Verdagtes laat vaar aansoek
Die mans wat daarvan verdink word dat hulle ’n bejaarde opsigter in sy huis in die Tonteldoos omgewing vermoor het, het hul borgaansoek laat vaar.
Eric Mtombeni en Papiki Mokwena staar vyf klagtes in die gesig waaronder moord, menseroof, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n wapen en ammunisie.
Hulle het na bewering vir Sarel Janse van Rensburg twee weke gelede in sy huis vermoor.

Die mans sou Woensdag, 1 Oktober, hul borgaansoek voor landdros Kotze gebring het. Hulle het egter vir onbekende redes hul aansoek laat vaar.
Omdat die twee die borgaansoek laat vaar het, het hulle nie soos verwag om 14:00 verskyn nie, maar reeds vroegoggend.
Dit het beoere se planne om die hofsitting in groot getalle by te woon, in die wiele gery.
Die saak is tot 4 November uitgestel vir verdere ondersoek en die mans bly in aanhouding tot dan.

