Crime

Sekuriteitsbestuurder aangeval

Die sekuriteitsbestuurder by die Middelburg Mall is naby die begraafplaas aangeval en met 'n mes gesteek.

Mnr. Dirk van Wyk het Saterdag vir lewe en dood geveg teen twee jong rowers.

Hy wou gou by die werk iets gaan doen (hy was nie aan diens nie). Omdat dit so lekker sonnige dag was, het hy besluit om sommer te stap, vanaf sy huis in Groenkol.

Net verby die begraafplaas is daar ‘n veld met bome aan die linkerkant en hy was wel op sy hoede, aangesien daar nie mense naby bly nie. Hy was egter reg langs die pad (Samora Machelstraat) en dit was helder oordag (omstreeks 11:45).

‘n Jong man het van voor af gestap gekom, maar hy het hom aanvanklik nie aan hom gesteur nie. Eers toe die man reguit op hom afstap, het hy besef iets is fout en stelling ingeneem om hom weg te stamp, as hy iets aan hom sou probeer doen.

Iemand het hom van agter af ook beetgekry en hy het besef dat die twee saamwerk.

Mnr. Van Wyk wou nie toelaat dat hulle sy selfoon steel nie en het gekeer vir al wat hy werd is. In die proses het die drie mans omgeval en ook op die grond verder gestoei.

Mnr. Dirk van Wyk (sekuriteitsbestuurder, Middelburg Mall) is Saterdag naby die begraafplaas aangeval en met 'n mes gesteek.
Mnr. Dirk van Wyk (sekuriteitsbestuurder, Middelburg Mall) is Saterdag naby die begraafplaas aangeval en met ‘n mes gesteek.

“Wat ongelooflik is, is dat niemand in die besige straat gestop het om te help nie,” sê mnr. Van Wyk omgekrap.

Net so vinnig as wat hulle op hom toegesak het, het die booswigte opgespring en weggehardloop.

Mnr. Van Wyk was bly dat hulle nie sy selfoon kon afvat nie, maar het vies agtergekom dat hulle sy horlosie en beursie geroof het.

Dit is toe dat hy agterkom sy hemp is nat en het gesien dat hy bloei.

Hy het teruggestap huistoe, maar teen daardie stadium het hy geweldig gebloei. Hy kon nie dadelik sy noodhulptas in die hande kry nie en het gaan aanklop by vriende op dieselfde perseel.

Me. Corrie Bezuidenhout het die wond op sy linkerheup skoongemaak en hulle het besef dat hy met ‘n mes gesteek is. Twee van die drie messteke was oppervlakkig, maar die derde wond was diep.

Hulle is na ‘n plaaslike dokter, wat hulle aangeraai het om dadelik hospitaal toe te gaan. Mnr. Van Wyk was in sy noppies met die hulp wat hy ontvang het by die Middelburg Hospitaal. Personeel het dadelik na hom omgesien en die dokter aan diens het die wond met steke geheg.

Die dokter het gesê dat die wond sowat ses sentimeter diep is en dat hy Maandag moet terugkeer sodat hulle X-strale kan neem, om te kyk of daar nie inwendige skade is nie.

“Ek het nooit die mes gesien nie, want alles het net te vinnig gebeur”.

• Daar was nie veel geld in sy beursie nie en hy het dadelik sy bankkaarte wat daarin was, gekanselleer. Sy bestuurskaart was gelukkig nie in die beursie nie.

Hy was egter ongelukkig dat sy horlosie geroof is. Dit het vir hom sentimentele waarde, omdat sy pa dit ‘n paar jaar gelede vir hom as geskenk gegee het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button