Crime

Opvolg: Kinders het pa gevrees

“Ek raak nou nog kwaad vir my ma omdat sy altyd stilbly,” het ’n baie emosionele Vicky Botma Woensdag in die Noord Gautengse Rondgaande Hooggeregshof in Middelburg getuig in die vonnisverhoor van haar ma, Ronel Botma.

Mev. Botma het Maandag skuldig gepleit op die moord van Tizianno Ciciliato.

Sy het vertel van voorvalle waar sy as klein dogtertjie, nadat haar ma en biologiese pa geskei is, saam met mev. Botma by mnr. Ciciliato gaan bly het.

Sy is as ses- of sewe jarige dogtertjie op straat uitgegooi nadat mnr. Ciciliato haar met die vuis geslaan het. Sy moes langs haar klere, wat op ’n hoop op die sypaadjie gelê het, staan en wag vir haar pa om haar te kom oplaai.

Mnr. Ciciliato het volgens haar daarna die kontak wat sy met haar ma gehad het beperk.

Me. Botma het vertel dat mnr. Ciciliato ’n passie vir hengel gehad het. Hy het gereeld in veral Knysna gaan visvang.

“As hy see toe gegaan het, was dit vir ons lekker. Dan kon ons my ma weer sien. As hy op vakansie was, was ons op vakansie.”

Sy het getuig dat mnr. Ciciliato nooit sou sê presies wanneer hy terug kom nie. Een aand het sy, haar broer Jaco en haar ma wegneemetes gaan koop en ’n “krismis”-bed voor die televisie gemaak om ’n fliek te kyk. Toe iemand toeter druk voor die hek het haar ma opgespring en gesê “Dis TC.”

Sy het toe glo die matras vinnig gaan wegsteek en die kinders deur ’n venster laat klim, voordat sy die hek gaan oopmaak het.

Vicky en Jaco moes kaalvoet en in die donker oor ’n hoë muur klim en huistoe stap. Na ’n rukkie het hul ma langs hulle gestop en huistoe gevat.

Sy het vertel hoe sy vandat sy begin skool gee in Middelburg haar jonger halfsussie versorg het. Sy het vir ’n ruk Korea toe gegaan om daar skool te gee. ’n Oproep van haar broer het haar ingelig dat mnr. Ciciliato vermoor is.

“Toe ek gehoor het hy is dood, het ek dadelik verlig gevoel. Ek het met my ma gepraat en haar gevra of sy bly is maar ek kon hoor daar is mense by haar.”

Toe me. Botma uit Korea na Suid-Afrika vertrek het vir die begrafnis was haar ma nog nie as verdagte gearresteer nie. Met haar aankoms op OR Tambo lughawe was sy verbaas om haar pa en halfsussie in plaas van haar vriendinne te sien.

“My sussie het haar polse teen mekaar geslaan. Ek het nie lekker verstaan nie. Toe fluister sy vir my ‘Moenie kwaad wees vir Mamma nie, sy het dit vir ons gedoen.‘”

Toe sy gevra is hoekom haar ma nie mnr. Ciciliato verlaat het nie, het sy verstom gevra “Waar sou sy gaan wegkruip het?”

Sy het getuig dat haar ma en sussie na mnr. Ciciliato se dood nuwe mense is.

•Die verhoor word tans voortgesit.

•Meer berigte verskyn in vandag se uitgawe van die Middelburg Observer.

Lees vorige berigte:

Video: Botma skuldig

Opvolg: Ronel Botma moes glo aan vurkhyser hang

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button