Dankie vir die oproep maar… ‘Ons hoor niks van polisie’
Vier jaar na die dood van Julie Cruse is daar steeds talle vrae waarop 'n gesin nie antwoorde kry nie.
“Dankie vir die oproep. Jy as joernalis gee om, maar ons hoor niks van die polisie nie. Hulle moes mos eintlik gebel het!” het mnr. Ronnie Cruse, me. Cruse se eksman, hierdie week gesê.

Me. Cruse (72), die eienaar van die Pullenshope drankwinkel, se lyk is op 2 Junie 2012 by haar huis deur haar huishulp, Maria Magola, gevind.
Langs haar lyk het die polisie die strykyster gekry waarmee hulle haar verskeie kere op haar rug en maag gebrand het.
Sy het ook erge kopbeserings gehad, wat ‘n aanduiding was dat sy met iets teen die kop geslaan is.
Die wreedaards het verder ‘n kombuislap in haar keel afgedruk en een van haar serpe styf om haar mond en nek vasgemaak.
Mnr. Cruse sê sy kinders, André, Tanya en Debbie, het die naweek weer met hom gepraat oor hul ma se sinnelose moord. “Ek kon weereens nie vir my kinders antwoorde gee nie.”
Hy sê hy het die afgelope vier jaar al verskeie kere navraag gedoen om te hoor hoe ver die ondersoek gevorder het.
Daar was nege maande gelede twee polisielede wat verklarings afgeneem het. “Ek was nog so bly, want dit het regtig gelyk of daar nou iets gaan gebeur.”

Na ‘n paar weke het hy navraag gedoen, omdat hy niks van hulle gehoor het nie.
“Die persoon wat die foon geantwoord het, het vir my gesê dat die lid verplaas is wat by ons was en dat hulle my sal terugbel.”
Nadat nog ‘n paar weke verloop het, het mnr. Cruse die Hendrina polisiestasie weer gebel. “Dié keer kon hulle nie die dossier opspoor nie en het weer beloof om te bel. Dit was die laaste wat ek van hulle gehoor het!”
• Lt. Simon Shabangu (Hendrina bevelvoerder) het gesê dat enige persoon wat nuwe inligting het oor die moord, hom kan bel by 082 318 9650.
• André Cruse, me. Cruse se seun, is ‘n professionele gholfspeler. Hy was besig om deel te neem aan die Swazi Sunshine Gholfreeks toe sy ma vermoor is. Hy sou later daardie week deelneem aan die Malawi Ope, maar het dit gekanselleer om sy ma se begrafnis op Pullenshope by te woon.
Lees ander stories hier:
Wie is die vrou wat gegil het?
