Crime

(Grafiese Inhoud) – ‘My kind is soos ’n hond doodgeslaan’

’n Jong man van Belfast is oor die naweek dood nadat hy deur ’n groep mans, in wat blyk na ’n voorval van bendegeregtigheid te wees, in ’n doodloopstraat vasgekeer en met bottels, klippe en stokke geslaan is.

Pierre Ettienne de Necker (24) is kort na sy aankoms Vrydagaand by die Belfast Hositaal breindood verklaar. Hy is die Saterdagmiddag net na 15:00 in die hospitaal dood verklaar.

Sy pa Leon is gebroke. Hy is steeds nie seker wat presies gebeur het nie.

“Ek probeer nog alles uitvind. Al wat ek weet is dat hy gery het met ’n kar wat nie syne is nie, en dat ’n klomp karre hom agtervolg en in ’n doodloopstraat vasgekeer het. Ek het self die bottels, klippe en stokke vol bloed gaan optel en dit in ’n swartsak vir die polisie gevat.”

Volgens ooggetuies, wat om vrees vir vervolging anoniem wil bly, was daar ’n oproerigheid in die straat. Daar is eers gedink dat dit ’n straat partytjie is. Later kon daar gehoor word hoe van die mans op die toneel roep: “Jou hond! Jou hond!”

Ooggetuies sê dat hulle nader geloop het toe daar ’n polisievoertuig op die toneel aankom. Die polisiemanne het glo met hul hande in hul sakke gestaan en kyk hoe die aanranding plaasvind.

Die groep mans en vrouens op die toneel het vertel dat mnr. De Necker ’n voertuig gesteel het en dat hulle hom ’n les gaan leer.

Ettienne de Necker (24) was die oudste van drie seuns. Hy is Saterdag in die Belfast Hospitaal dood.
Ettienne de Necker (24) was die oudste van drie seuns. Hy is Saterdag in die Belfast Hospitaal dood.

Daar was sowat agt voertuie wat twee Volkswagen Golf karre, ’n BMW en ’n Mercedes ML ingesluit het. Ses vroue wat saam in ’n Golf op die toneel aangekom het, het die mans glo opgesweep om die aanranding voort te sit. Buiten vir klippe is mnr. De Necker ook glo met ’n besemstok herhaaldelik oor die kop geslaan.

Ooggetuies kon mnr. De Necker eers sien waar hy bebloed op die grond lê toe een van die voertuie weggetrek is. Daar was ’n vuurwapen wat langs hom gelê het. Dit het later spoorloos verdwyn.

Mnr. De Necker (senior) sê dat sy seun nooit ’n vuurwapen besit het nie. Hy sê hy het wel gehoor dat die mense in die voertuie wat sy seun se voertuig probeer voorkeer het, gewapen was en dat dit was hoekom mnr. De Necker probeer wegjaag het.

Daar is uit ’n betroubare oord bevestig dat mnr. De Necker ’n paar weke gelede ’n Volkswagen Golf by ’n vulstasie op die dorp gesteel het. Hy het volgens ’n ooggetuie dood luiters in die voertuig geklim, terwyl die eienaar besig was om die bande te pomp.

Die voertuig is toe vermoedelik op ’n plaas in die omgewing gehou tot mnr. De Necker en ’n vriend Vrydagaand in Belfast gaan brandstof ingooi het by dieselfde vulstasie.

Iemand het die voertuig herken en die eienaar in kennis gestel wat toe hulp ingeroep het om mnr. De Necker vas te keer. ’n Vriend wat saam met hom in die voertuig was, het daarin geslaag om weg te hardloop, toe hulle in die doodloopstraat vasgekeer is.

Geskokte ooggetuies het vertel dat buiten vir die polisie, wat niks gedoen het om die aanranding stop te sit nie, die ambulans ook nie veel hulp was nie. Dit het op die toneel opgedaag sonder ligte aan en paramedici het mnr. De Necker vir ’n geruime tyd op die toneel laat lê, sonder om noodhulp te verleen,

“Hulle het niks vir hom gedoen nie, hom net na ’n ruk gevat en op ’n stretcher gelaai sonder om eers na hom te kyk. Die ambulans was seker 20 minute op die toneel voor hulle met hom weg is,” sê een van die ooggetuies.

’n Betroubare bron sê dat bendegeregtigheid besig is om toe te neem omdat die publiek nie meer vertroue in die polisie het nie.

“Hierdie was nie ’n wit of swart ding nie. Wie hulle ookal in daai kar gekry het sou les opsê. Maar moord is dit moord!”

Daar is ook vertroulik verneem dat die klaer in die voertuigdiefstalsaak, nou die hoofverdagte vir die moord is. Dit is glo hy wat die foto van ’n bebloede mnr. De Necker geneem en dit toe aan ’n familielid gestuur het, vanwaar dit verder versprei is.

Mnr. De Necker se pa het versoek dat die foto van sy seun se bebloede liggaam gepubliseer word.

“Ek wil hê die wêreld moet sien hoe hulle my kind soos ’n hond in die straat doodgeslaan het. Sy liggaam kom vandag terug van Middelburg af. Ek moet later vandag my seun se laaste goedjies by die polisie en die lykshuis gaan haal.”

Mnr. De Necker was die oudste van drie seuns. Hy het met tye van sy dood op ’n plaas buite Belfast gewerk. Daar was teen Maandag nog nie begrafnisreëlings bekend nie, behalwe dat die familie laat weet het dat hulle beplan om ’n verassingsdiens later in die week te hou.

Lees ander stories hier:

Video: Mob justice at Ultra City

Video: Kanonkop Spar kitsbank opgeblaas

Exclusive video of ATM bombings at Midwater Centre

Standard Bank ATM bombed at Midwater Centre

Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates. You can also WhatsApp us on this number 079 426 1396

Also check out our Video’s on Youtube daily!

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button