Die oud-inwoners van Viljoenstraat op Middelburg, die Barnards, is in New York.
Dit is vanaand Vernon se groot aand!
Die blinde sanger, wat die finale rondte gehaal het van die sangkompetisie, “The Voice”, tree vanaand om 23:00 Suid-Afrikaanse tyd op by die sewende jaarlikse Danny Musiekstigting-toekennings wat by die historiese The Town Hall in Times Square gehou word.
Die organiseerders het besluit om dit in ’n kompetisie te omskep, waar die wenner van die 10 deelnemers wat optree, vyf duisend dollar kan wen.
Daar word net vyf minute vir stemme toegelaat en daar kan eers gestem word wanneer al 10 deelnemers klaar gesing het.
Vernon se pa, ook Vernon, het mense gevra om die program te kyk en vir sy seun te stem.
*Die jong Vernon was deel van die gewilde #TeamBobby onder leiding van sy afrigter, Bobby van Jaarsveld, wat reeds tydens ‘n emosionele “blinde oudisie” in trane uitgebars het. Hoewel hy nie die algehele kompetisie gewen het nie (Richard Stirton was die wenner van die 2016-seisoen), het hy deurgedring na die finale rondtes en as een van die topdeelnemers geëindig.
Sy deelname het hom wêreldwyd deur YouTube bekend gemaak en hy het direk ná die program ’n platekontrak losgeslaan.
*Die twee Vernons kom die eerste week in November op Middelburg kuier.
Photo caption: Vernon Junior en Vernon Senior is in New York.