(Opvolg) Belfast moord: die aaklige nadraai
Dit blyk dat die ondersoek na die gewelddadige moord in Belfast verlede naweek, waarin ’n jong man deur ’n groep woedende mense in die straat doodgeslaan is, die gevaar loop om, deur lakse polisiewerk, ’n onderlinge gekinkel en ’n sensasionele berig, net nog ’n onopgelosde misdaadstatistiek te word.
Verskeie bronne na aan die ondersoek vrees dat politiek, wat grotendeels aangeblaas is deur ’n onakkurate berig wat die dag na Pierre de Necker se dood op die webblad Censorbugbear.org verskyn het, die saak kan kniehalter.
Pierre de Necker is dood nadat hy deur ’n groep van tussen 11 en 15 mense uit ’n motor gepluk is en toe geskop en geslaan is met bottels, klippe en stokke totdat hy bewusteloos in ’n plas bloed agtergelaat is.
Hy is bewusteloos hospitaal toe geneem waar hy later in ’n koma verval het. Hy het nooit weer sy bewussyn herwin nie en het Saterdag net na 15:00 sy laaste asem uitgeblaas.
Die leuens:
Kort na mnr. De Necker se dood het ’n radikale groep wat hom beywer “om geweldsmisdade teen blankes uit te lig”, die spreekwoordelike dam onder die eend uitgeruk met ’n berig wat besaai was met onwaarhede.
Adriana Stuijt, ’n oud-joernalis van Nederland, het onder andere gesê dat daar geskree is “You are white and white people did this to our people.” Ooggetuies op die toneel sê dit is heeltemal onwaar.
Me. Stuijt meen sy het met vier ‘bronne’ gepraat. Sy vertel hoe die ‘enigste wit polisieman in Belfast’ van die toneel af verjaag is en nou vrees vir sy lewe.
Sy het ook vertel dat die foto, van ’n bebloede mnr. De Necker, deur die aanvallers aan die De Necker familie gestuur is om hulle te tart.
Die betrokke polisieman, wat geweier het om met www.mobserver.co.za te praat, omdat alle kommunikasie deur die amptelike polisiewoordvoerder gedoen moet word, het egter volgehou dat hy nie met me. Stuijt gepraat het nie en dat die bewerings in haar berig onwaar is.
Daar is van ’n betroubare bron verneem dat die polisieman egter na me. Stuijt se berig geteiken word omdat sy dit laat blyk het dat hy met haar in kontak was.
Die polisieman se geloofwaardigheid word nou in twyfel getrek, omdat dit volgens die berig voorkom dat hy hom by onwaarhede rondom die moord en die radikale siening van Censorbugbear skaar.
Me. Stuijt het op Facebook gespog dat sy volgens die sosiale netwerk se statistieke ’n half miljoen mense met haar Facebook berig oor mnr. De Necker bereik het.
Die regte bedreigings vir die ondersoek:
Ten spyte van die sensasionele berig, wat ironies nou blyk om meer sleg as goed vir die ondersoek en die De Necker gesin te beteken, is daar wel talle ongerymdhede.
Daar is betroubaar verneem dat ’n bekende inwoner van Belfast deel van die groep mans uitgemaak het wat by die aanranding betrokke was. Die persoon het invloed by die polisiemag asook moontlik in regskringe.
Teen Dinsdag, het die ondersoekbeampte in die moordsaak nog nie die bewysstukke, wat klippe, bottels en stokke, asook mnr. De Necker se bebloede klere insluit, by die familie gaan haal nie.
Die bewysstukke kan belangrike inligting soos vingerafdrukke en DNS van die beskuldigdes bevat.
Die vier verdagtes, wat Maandag gearresteer is, is die aand weer laat gaan omdat daar volgens die inligting in hul waarskuwingverklarings glo nie genoegsame bewyse teen hulle was nie.
Daar word nou beweer dat die polisie opsoek is na ’n betrokkene wat bereid is om met die hele sak patats vorendag te kom voordat hulle iemand sal aankla.
Dit blyk dat die polisie probeer om die ‘gemenereg beginsel’ wat bepaal dat almal wat ’n misdryf met ’n gesamentlike doel pleeg, skuldig is ten spyte daarvan dat hulle moontlik nie fisies deelgeneem het nie, te omseil.
Dit is tog nie hoërgraad wiskunde om te weet dat ’n groep van meer as 10 mense, wat iemand deur die strate van Belfast gejaag het, hom vaskeer en uit die motor waarin hy was pluk, nie daar was om sy hand vas te hou nie.
Ooggetuies het vertel hoe ’n groep van ses vroue wat in ’n Volkswagen Golf op die toneel aangekom het, die mans aangespoor het om De Necker aan te rand.
Hoekom daar vier dae na mnr. De Necker se dood, nog geen persone vir sy moord aangekla is nie, is kommerwekkend. Die eienaar van die gesteelde Volkswagen Golf waarin mnr. De Necker gevind is, is bekend aan die polisie, omdat hy ’n saak van motordiefstal geopen het. Hy behoort tog een van die verdagtes vir die moord te wees?
Daar was ook twee polisiebeamptes op die toneel, wat hande in die sakke gestaan het, wat gevra kan word om die verdagtes op die toneel te identifiseer. Die identiteit van een van die beamptes is bekend aan www.mobserver.co.za.
Persone na aan die ondersoek vrees dat swak speurwerk asook die onderlinge wit-teen-swart politiek wat nou aangewakker is, die geloofwaardigheid van die Belfast polisie in gedrang plaas.
Een so persoon meen dat dit baie veiliger sal wees om die dossier in die hande van ’n buite ondersoeker, nie aan die plaaslike polisiestasie verbonde nie, te plaas.
Vrae aan die Belfast polisie, oor hoekom die toneel nie sorgvuldig verwerk is en bewysstuke versamel is nie, bly onbeantwoord.
Lees vorige stories hier:
Opvolg: De Necker verdagtes laat gaan
(Opvolg) Video: ‘Soos hond’ dood geslaan
(Grafiese inhoud) – ‘My kind is soos hond dood geslaan’
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates. You can also WhatsApp us on this number 079 426 1396
Also check out our Video’s on Youtube daily!
