Opvolg: Talle vrae, min antwoorde
’n Storm woed om die moordondersoek na die dood van Pierre de Necker (24) van Belfast.
Pierre, of Happy, soos wat hy onder Belfast inwoners bekend gestaan het, is verlede Vrydag, 8 Julie, deur ’n woedende groep mense so erg aangerand dat hy sy bewussyn verloor en nooit weer herwin het nie.
Hy is die volgende dag dood verklaar in die Belfast Hospitaal nadat hy in ’n koma verval en net na 15:00 die middag ophou asemhaal het.
Alhoewel daar onsekerheid rondom die gebeure kort voor sy dood is, kan www.mobserver.co.za na onderhoude met verskeie bronne, die volgende inligting bekend maak:
Vrydagnag (presiese tyd onbekend):
’n Volkswagen Golf wat ’n paar weke vroeër gesteel is, word voor eers in die middedorp en toe voor ’n kroeg raakgesien. Die eienaar van die voertuig stel die polisie in kennis wat weer buurtwaglede vra om op die uitkyk daarvoor te wees.
Lede van die polisie gaan stel ondersoek in, maar met hul aankoms by die kroeg is die motor skoonveld. Hulle ontvang inligting dat die motor deur Pierre de Necker bestuur word. Die polisie gaan daarna na ’n plaashuis buite Belfast waar De Necker saam met vriende bly.
In die motorhuis kry hulle eiendom wat aan die eienaar van die motor behoort, asook die voertuig se nommerplate. Dit word as bewysstukke ingeneem.
Vrydag 20:40 tot 21:00
’n Inwoner van Belfast sien ’n verdagte voertuig, ’n Volkswagen Golf, voor haar hek staan. Daar is niemand by die voertuig nie en die voertuig het nie nommerplate op nie. Sy bel haar bure wat ’n sekuriteitsmaatskappy ontbied om te kom ondersoek instel.
Die reaksie offisier noem aan haar dat dit lyk soos die motor ‘waarna hulle soek’ voordat hy weer van die toneel af vertrek. Kort daarna blaf haar honde weer en sy sien iemand by die kar beweeg.
Die man roep: “Moenie skrik nie tannie, dit is ek Pierre. My kar het hier vasgeval.” Hy ry weg en sy dink niks verder van die voorval nie, tot sy later van Pierre se aanranding hoor.
Vrydag 21:30
Mnr. Leon de Necker word gebel en in kennis gestel dat sy seun, Pierre, in die hospitaal is. Dit beteken dat in die halfuur sedert hy voor die ander inwoner se huis gesien is, hy gejaag, vasgekeer en aangerand moes wees.
Ooggetuies op die toneel van sy aanranding sê dat hy minstens 10 minute na hul aankoms bewusteloos op die grond gelê het. Ander inwoners, wat nie na die toneel is nie, sê dat hulle gehoor het hoe mense opgewonde praat en daar geskree word “Jou hond!”
’n Polisievrou van Belfast asook ’n familielid van haar, is ook op die toneel. Iemand neem ’n foto van die bebloede Pierre. Op die foto is daar ’n vuurwapen sigbaar.
Op ’n video wat wys hoe iemand wat baie soos Pierre lyk, twee weke gelede die betrokke voertuig by ’n vulstasie kaap, is ’n vuurwapen duidelik in sy hand sigbaar. Daar word egter later ’n plastiek geweer in die Golf gevind. Dit laat die vermoede ontstaan dat die vuurwapen op die foto moontlik geplant is.
Beide gewere is by die polisie ingehandig as bewysstukke.
Saterdag 15:30
Pierre de Necker word dood verklaar. Die bewysstukke op die toneel waar hy geslaan is, word deur sy pa opgetel en in ’n swartsak gesit vir bewaring.
Wat kommerwekkend is oor die ondersoek is dat daar Maandag vier persone, die voertuigeienaar en sy vrou, die man wat hulle rondgery het en ’n taxi-bestuurder wat glo mense aangery het na die toneel om Pierre aan te rand, gearresteer is. Hulle waarskuwingverklarings word geneem maar hulle word Maandagaand weer vrygelaat omdat daar glo na konsultasie met ’n staatsaanklaer besluit is dat daar nie genoegsame bewyse teen hulle is nie.
Daar word skynbaar geen moeite gedoen om bewyse teen hulle in te samel nie omdat die polisie versuim om die toneel te beveilig en bewysstukke op die toneel in te samel.
Die Belfast polisievrou, versuim om haar teenwoordigheid, of die van haar familielid bekend te maak. Haar teenwoordigheid op die toneel word later deur inwoners wat haar ken, onthul.
Daar is vrae oor die Belfast polisielid se betrokkenheid op die toneel, hoekom die toneel nie ordentlik beveilig is nie, hoekom bewystukke oor die misdryf nie ingesamel is nie en waarom daar nog nie iemand gearresteer is nie. Dit is hoogs waarskynlik dat die eienaar van die gesteelde voertuig moontlik betrokke is of ten minste die skuldiges sal kan uitwys.
Lees vorige stories hier:
(Opvolg) Belfast moord: die aaklige nadraai
Opvolg: De Necker verdagtes laat gaan
(Opvolg) Video: ‘Soos hond’ dood geslaan
(Grafiese inhoud) – ‘My kind is soos hond dood geslaan’
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates. You can also WhatsApp us on this number 079 426 1396
Also check out our Video’s on Youtube daily!
