(Video’s) Opvolg: Is dit die moordbende?
’n Eienaar van ’n sekuriteitsmaatskappy in Ermelo glo die rowers wat op Kriel aangekeer is na ’n oor en weer skietery met die polisie, is dieselfde groep wat sy sekuriteitswag doodgeskiet en betrokke was by aanvalle en transitorooftogte in Middelburg en omgewing.
“Dit is dieselfde bl&$sems! Hulle het te mak geword en hulle vasgeloop in die Valke! Die Valke het goeie werk gedoen!” het mnr. Oubaas de Jager (eienaar van ACSU, Ermelo) pas gesê.
Twee lede van die Gautengse Valke is gewond, een rower doodgeskiet en agt rowers is gearresteer na die skietery Sondag in Kriel.
’n BMW is gekaap in Gauteng, waarna die voertuig gevolg en die Valke by die huis in die middedorp van Kriel toegeslaan het.
Na die skietery is daar beslag gelê op verskeie aanvalsgewere, waaronder AK47’s, ’n R5, twee R4’s, ’n LMG, ammunisie en koeëlvaste baadjies.
Mnr. De Jager glo dit is dieselfde groep wat op 13 Mei sy sekuriteitswag, mnr. Dirk Ackermann, van agter af met ’n R5 in die kop doodgeskiet is. Sy ander sekuriteitswag, Bashini Nkosi, is in die maag gewond.
Hy is van mening dat hierdie groep ook verantwoordelik is vir die lang lys misdade by hulle, in die Middelburg en eMalahleni omgewing.
Net soos in die geval van sy sekuriteitswag, het kitsbankrowers met ’n R5 losgebrand op mnr. Johan van Rensburg en sy dogter, Amór (19) toe hulle op kort na 22:00 op 5 Julie hulp wou gaan verleen nadat die Standard Bank kitsbank opgeblaas is by Kanonkop Spar.
Die patroonpunt het vasgeslaan aan die handvatsel etlike millimeters vanaf Amór se kop, waarna klein stukkies skrapnel haar getref het.
“Ek wag in spanning vir die uitslae van die ballistiese toetse om te bepaal of dit hulle was! Maar ek is so bly hulle is gevang. Hulle het net te veel keer daarmee weggekom,” is mnr. De Jager se kommentaar.
• Op 9 Mei word twee Standard Bank kitsbanke opgeblaas by die Midwater Sentrum op Middelburg en word met ’n outomatiese aanvalsgeweer op radiogroeplede losgebrand wat in die omgewing is. Gelukkig word niemand raakgeskiet nie. Videomateriaal wys dat ’n vrou een van die aanvallers is. ’n Vrou is Sondag in die huis gekry, waar die Kriel rowers geskuil het.
• Net etlike dae later (13 Mei) ry Hardus Truter (24) en sy vriend, Marno van Tonder (24), vanaf Middelburg om by Hardus se pa op eMalahleni te gaan kuier.
’n Wit voertuig steek hulle op die ou Middelburg/eMalahleni pad verby en waai vir die mans, maar die volgende oomblik word daar op hulle losgebrand. Marno word in die sy gewond en Hardus doen ’n kopwond op toe skrapnel wat losspat hom in die kop tref.
• Twee ure later word die Standard Bank kitsbank by die Oak Sentrum in Ermelo opgeblaas.
’n Sekuriteitswag van ACSU reageer op die alarm, maar moet wegjaag toe daar op sy voertuig losgebrand en sy pet van sy kop af geskiet word.
Nog ’n voertuig van ACSU het op die alarm reageer en daar word ook deur die rowers op hulle losgebrand. Mnr. Nkosi word in die maag gewond en die voertuig kom tot stilstand.
Mnr. Ackermann spring uit die voertuig, maar word van agter af in die kop geskiet. Hy sterf op die toneel.
Dié rowers op Ermelo het soos in die geval van Kanonkop Spar vir die sekuriteitswag gesê het om te “voetsek”.
• By die Midwater, Ermelo en Kanonkop voorvalle is R5- en AK47 aanvalsgewere gebruik.
• Die afgelope paar jaar was daar verskeie kitsbankontploffings en aanvalle in eMalahleni.
• Gedurende Mei 2016 bied die polisie se Valke-eenheid ’n R150 000 beloning aan vir inligting wat sal lei tot die arrestasie van spesifieke kitsbankrowers.
Die beloning volg nadat ’n man in November 2011 vyf keer raakgeskiet is deur rowers na ’n kitsbankontploffing by Ga-Nala (eMalahleni). Hy wou gaan geld trek en is deur die rowers geskiet. Die man is verlam na die aanval.
• Op 21 April vanjaar is die Standard Bank kitsbank by die Ben Fleur Boulevard (eMalahleni) opgeblaas.
• Op 23 Junie bly die Standard Bank kitsbank by die Hazeldean Winkelsentrum (Pretoria Oos) in die slag.
Die BMW het teen ’n hoë spoed gery, voordat hulle op die voertuig losgebrand het. Die aanvallers het met R5’s en ’n LMG geskiet en een van die die wagte is in die been gewond.
Die BMW het weggejaag en die wagte kon nie sien hoeveel aanvallers in die voertuig was nie.
• By die huis in Kriel is daar Sondag beslag gelê op ’n silwer Chrysler, ’n swart Mazda dubbelkajuit bakkie, ’n wit BMW, ’n swart BMW en ’n silwer BMW.
Van dié voertuie kan moontlik ook betrokke wees by onder andere ’n rooftog in Bethal (Desember 2015), asook transitorooftogte in Verena die afgelope maand.
Lees ander stories hier:
Opvolg: Skote op voertuig geskiet
Nuusflits: Jong man in kop en sy geskiet
Exclusive video of ATM Bombings at Midwater centre
Standard Bank ATM bombed at Midwater Centre
