Crime

Mosambieker met gif in dammetjies gevang

’n Mosambieker is vanoggend in die vroeë oggendure tussen riete by die Dennesig dammetjies gevang, kort nadat twee motorfietse by ’n huis in Njalastraat gesteel is.

Dié arrestasie volg na uitstekende werk deur die Middelburg 911 GPF en ander GPF lede wat heelnag patrollie gery het, nadat daar gister (Donderdag) by vier huise in Njalastraat honde vergiftig is. Dit is juis langs een van dié huise waar een van die honde vergiftig is, waar die twee motorfietse gesteel is.

Mnr. Gerhard du Plooy (voorsitter, Middelburg 911 GPF) het met sonopkoms die goeie nuus met www.mobserver.co.za gedeel.

“Ons het almal besluit om in skofte patrollie te ry, juis omdat al die honde gister vergiftig is.”

Omstreeks 03:30 het een van die lede, me. Francis en Keith Davies, in Sipresstraat opgery en naby die substasie in Njalastraat twee verdagtes gesien wat twee motorfietse stoot. Sy het mnr. Du Plooy dadelik gekontak en ook ’n noodroep op die Zello-kanaal uitgesaai.

Met mnr. Du Plooy se aankoms by me. Davies, het sy vertel dat die twee in die rigting van Dennesig gehardloop het. Hulle het die motorfietse net daar neergesmyt.

Mnr. Du Plooy sê groot groepe lede het opgedaag, al het hulle ook die eerste skof gery, en het dadelik al die strate in Dennesig gefynkam.

’n Paar het hulle toegespits op die area by die Dennesig dammetjies.

Lede van die GPF het ook met die soektog kom help.

Luister na die gesprek op Zello hier.

Opname 1

Opname 2

Almal was nog besig om te soek, toe mnr. Jacques van Niekerk (Middelburg 911 GPF) per Zello laat weet dat hy en JJ (sy seun) een van die booswigte tussen die riete in die water gevind het. Hulle was besig om te voet te soek, toe hulle tussen die riete ’n geluid hoor en dadelik soontoe lig. Die booswig se neus het net-net bokant die water uitgesteek.

In sy besit het hulle inbreektoerusting gekry. Hy het twee sakkies by hom gehad. Mnr. Du Plooy sê hulle vermoed dit is die dodelike Temik gif, maar dit het nat en pap geword en was dit nie meer so korrelrig nie. Alle aanduidings is egter dat dit die gif kan wees.

Mnr. Du Plooy sê hulle het uitstekende samewerking van die polisie af gekry. Hulle het dadelik kapt. René Ballot (Berede-eenheid) gekontak tydens die soekproses, wat op haar beurt die honde-eenheid, vir konst. Timothy Mashiane, gekontak het.

Konst. Mashiane en sy hond, King, het die area gefynkam vir die tweede verdagte, maar hy was skoonveld. Hulle vermoed hy het oor die pad gehardloop in die rigting van Mhluzi.

• Die twee motorfietse is gesteel by die Grundlingh-gesin in Njalastraat. Die diewe het die motorhuis oopforseer om by die motorfietse uit te kom.

• Die verdagte se naam mag nie genoem word nie, omdat hy teen die tyd wat www.mobserver.co.za die inligting gekry het, nog nie in die hof verskyn het nie.

Lees ander stories hier:

Wanted: Hit and run fortuner

Bill Clinton in court

Thousands of fish killed at Eikeboom Pan

Ten arrested for illegal fishing

Warning Graphic: Five babies dumped in less then two months

Update: Police finally make arrest after latest discovery

New born baby found dead

Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

Back to top button