Opvolg: Die vrou met die 38 Special
Die vrou wat haar man geskiet, die deur toegetrek en hom daar vir dood agtergelaat het, Annemarie Mulder, moet gaan vir sielkundige waarneming.
Daar moet bepaal word of sy aanspreeklik gehou kan word vir die gebeure op 2 Oktober 2013 waartydens sy haar man van destyds, Seef, geskiet het.
Die saak is uitgestel vir transkripsies, waarna me. Mulder verwys sal word.
Die verhoor het in die streekhof voor landdros Andreas Masteroudes gedien.
Mnr. Derik Rowles (aanklaer) tree op vir die staat en adv. Denton Goodford vir die verdediging.
Hier is van die vrae en antwoorde wat onder kruisverhoor aan Mulder en later aan die kliniese sielkundige, dr. Jacob van Zyl van Nelspruit, wat vir die verdediging getuig het, gestel is.
Mulder is veral uitgevra oor haar verhouding voor en ná die skietvoorval met die klaer, mnr. Mulder. Die egpaar is etlike maande na die gebeure geskei.
Mnr. Derik Rowles: Was julle toe jul verhouding op sy slegste was, van bed en tafel geskei?
Mulder: Nee.
Rowles: So julle het saam op dieselfde bed geslaap?
Mulder: Ja.
Rowles: Toe jy die aand in September tuis gekom het van die radiostasie af en langs hom op die bed gelê het. Hoe het jy bewus geword van sy selfoon:
Mulder: Ek het hom gesoek. Ek het die toutjie van die laaier gesien en gesien dit loop onder sy kopkussing in.
Rowles: Jy het hom baie versigtig uitgehaal:
Mulder: Ja.
Rowles: Waarnatoe gaan jy toe met die selfoon?
Mulder: Ek het by die badkamer ingegaan.
Rowles: Jy het hom soontoe gevat met die doel dat hy nie sien dat jy besig is met sy selfoon nie?
Mulder: Korrek.
Rowles: Jy het sy sms’e gelees?
Mulder: Ja.
Rowles: Jy het nie toestemming gehad om dit te doen nie?
Mulder: Dit was nie ’n kwessie van toestemming nie. Hy het voorheen gesê hy gaan my rug breek as ek sy selfoon vat.
Rowles: U het dus nie toestemming gehad nie?
Mulder: Ek het nie gevra nie.
Rowles: As mnr. Mulder sou gesê het dat hy jou rug gaan breek, beteken dit tog dat hy nie wou gehad het dat jy dit moet doen nie?
Mulder: Dit is nie hoe dit gesê is nie. Omdat hy my selfoon gevat en die simkaart verbrand het, het ek eenkeer by hom verbygeloop, sy selfoon uit sy hande gegryp en gesê ek wil sien wat aangaan. Hy het die selfoon by my gegryp en gesê hy sal my rug breek.
Rowles: In die badkamer sien jy hy het kommunikasie met ander vrouens? Waaroor gaan die sms’e?
Mulder: Ja. Daar is oor en weer gechat. Daar was egter een oproep van 10 minute wat my ontstel het, wat hy het haar gebel terwyl ek by die radiostasie was.
Rowles: Was daar dan niks erg in die sms’e nie? Net die oproep wat jou ontstel het?
Mulder: Alles was te vinnig, want ek was bang hy gaan my vang. Die oproep het die meeste impak gemaak, ja.
Rowles: Jy vat toe die selfoon en druk hom in die water om hom te beskadig? Hoekom?
Mulder: Ja, omdat hy my foon gevat het. Ek het dit nie verdien nie. Hy met ander vrouens besig en hy het dan ook nie verdien om ’n selfoon te hê nie.
Rowles: So jy het basies wraak geneem?
Mulder: Ja.
Rowles: Wat het u gedink wat gaan gebeur as hy agterkom sy foon is beskadig?
Mulder: Ek het nie daaraan gedink nie. Dit was instinktief om hom te weerhou met met ander vrouens te praat.
Rowles: Dit maak nie vir my sin nie. Jy lees dit vinnig, want jy is bang hy word wakker. Tog beskadig jy die foon om te bewys hy het hom gevat. Dan was die vrees nie meer so erg nie?
Mulder: Ek wou niks bewys nie. Ek was steeds bang. ’n Storm het buite gewoed en toe ek die foon wou terugsit onder die kopkussing, het dit begin vibreer van die nattigheid. Hy het wakker geword en dadelik sy foon gesoek. Ek het besef ek is uitgevang en vir hom gesê: as dit is waarna jy soek, hier is hy. Ek het erken wat ek gedoen het.
Landdros Masteroudes: Wat doen hy toe?
Mulder: Hy het die foon gevat en gesê hy gaan ’n saak by die polisie maak van opsetlike saakbeskadiging en gery.
Rowles: Was daar ’n woordewisseling?
Mulder: Ja. Ek het gevra hy moet sagter, want my dogter is in die kamer langsaan, waarop hy gery het.
Daar is ook uitgevra oor ’n voorval waar sy gevra het om die voertuig te gebruik (wat hy vir haar gekoop het). Hy het gesê sy moet wag, hy gaan eers stort. Sy het egter haar spaarsleutel gevat en gery. Die oomblik toe sy in die voertuig klim het sy die selfoon wat hy by haar gevat het gekry, asook ’n bandopnemer.
Verskeie vrae het hieruit voortgespruit, want, volgens Mulder, het sy die bandopnemer vir haarself gehou en na al die opnames, wat hy van hul woordewisselings opgeneem het, geluister.
Die oomblik toe sy begin ry, het sy bang geword wat sy reaksie is en is polisiestasie toe waar sy gevra het ’n polisielid moet saamgaan huis toe.
Omdat dit sleg gegaan het in hul huwelik, het sy op ’n stadium ’n dokter gaan sien om haar te verwys na die Denmar kliniek. Daar het egter ’n noodgeval opgeduik en sy kon nie opgeneem word nie.
Mnr. Rowles het haar daarop gewys dat sy sonder mnr. Mulder se toestemming na sy persoonlike Facebook en e-posboodskappe gekyk het sonder sy toestemming, sy selfoon beskadig én sy bandopnemer gevat het.
Hy het uitgevra oor haar wapen, ’n 38 Special rewolwer, en Mulder het aangedui dat sy die wapen vir 30 jaar altyd aan haar dra (in haar langbroek voor of in haar buustelyfie), selfs as sy kerk toe gaan.
Rakende die aand van die skietery, het hy haar gepeper met vra en of sy ander voorvalle ook uit haar geheue geblok het, soos die skietvoorval self. Sy het ontkennend geantwoord.
Daar is in detail die gebeure op die stoep bespreek, waar ’n argument ontstaan en mnr. Mulder vier keer in die rug geskiet is.
Sy het onder andere gesê dat sy ’n kalmeerpil gedrink het voordat hulle begin braai het en dat mnr. Mulder vir haar ’n sterk drankie gegee het. Kort daarna het die argument begin en sy het hom geskiet.
Mulder sê dit het gevoel asof sy “onder water” was in die paar sekondes wat mnr. Mulder geskiet is.
Sy het weer effens tot haar sinne gekom toe hy op die grond lê en “eina” skree. Sy het egter gedink hy maak weer ’n grap, soos hy een of twee keer vantevore gedoen het, waarop sy omgedraai, die deure agter haar toegemaak en gery het.
Lees vorige stories hier:
Volgens haar het sy op ’n stadium besef hy het dalk ’n ambulans nodig, waarop sy probeer bel het, maar haar selfoon was sonder ’n simkaart. “Ek het op daardie stadium besef dat ek dalk iets aan hom gedoen het.”
Sy het polisiestasie toe gery, haar wapen ingehandig en vir die polisie gesê het: “ek het my man geskiet.”
’n Ruk na die voorval het mnr. Mulder haar gekontak en het hulle mekaar by die rivier ontmoet en ook later seksueel verkeer by ’n gastehuis.
Verskeie vrae is hieroor gevra, waarin me. Mulder gesê het dat sy ingestem het, omdat sy gevoel het hy manipuleer haar. “Ek het gevoel soos ’n vlieg en ’n spinnekop. Ek het ook gevoel ek skuld hom iets, want ek het hom gewond. Hy het gesê hy is geskend en dat hy nie meer ’n vrou gelukkig sal kan maak nie.”
Adv. Goodford het die verslag van dr. Van Zyl ingehandig en sekere aspekte op die verslag uitgelig.
Daar is onder andere uitgebrei oor hoe die toetse gedoen is en wat sy bevinding was.
Dr. Van Zyl het gesê Mulder lei aan post traumatiese stresversteuring, asook post traumatiese ontwikkelingsversteuring oor trauma in haar grootwordjare.
Dr. Van Zyl: Me. Mulder is ’n tipese emosionele en fisiese mishandelde vrou.
Goodford: U finale bevinding tydens die skiet van haar man is dat sy nie opgetree het volgens die rasionale nie en haarself nie kon help nie?
Dr. Van Zyl: Ja, sy het op daardie oomblik irrasioneel opgetree en in die lig van die groter konteks het sy inderdaad buite haar karakter opgetree en kan sy nie toerekeningsvatbaar gehou word vir wat sy op daardie oomblik gedoen het nie.
Rowles het in kruisondervraging dr. Van Zyl daarop gewys dat Mulder leuens kon vertel het, waarop hy gesê het dat hulle intensiewe toetsing doen, waarmee hulle maklik leuens kan uitskakel.
Rowles: Ten opsigte van disassosiasie is dit tog duidelik dat verskillende mense verskillend reageer en is dit dus eintlik ’n grys area?
Dr. Van Zyl: Daar is kwalitatiewe navorsing, met die betekenis dat een persoon op verskillende modelle getoets is.
Rowles: So u sê dan as iets oor en oor gebeur, en dit is die sneller dat iemand tot so iets oorgaan, dit aanvaarbaar moet wees?
Dr. Van Zyl: Ek sal versigtig wees om dit te kategoriseer en dit sal verskil van saak tot saak.
Rowles: Is daar tipiese tekens voordat die sneller-oomblik plaasvind?
Dr. Van Zyl: Daar is nie tipiese tekens nie. Dit is die prosesse van toenemende druk of stressore op die individu se temperament en wanneer die verdedigingsmeganisme intree.
Landdros Masteroudes het hom oor sy verslag uitgevra en gesê hy maak melding daarvan dat Mulder uitermate fisiese en emosionele mishandeling deurgegaan het. En dat, gegewe die getuienis, daar spesifiek nie uitermate fisiese mishandeling was nie.
Dr. Van Zyl: Elke keer as ’n vrou mishandel word, is dit uitermate! Een voorval is een voorval te veel.
Lees ander stories hier:
Thousands of fish killed at Eikeboom Pan
Ten arrested for illegal fishing
Warning Graphic: Five babies dumped in less then two months
Update: Police finally make arrest after latest discovery
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
