Bergman Vervoer slenter duur voort
Die “vriendelike Koos Bergman” het al talle slagoffers gehad. Niksvermoedende kleinbesigheidseienaars wat moes agterkom dat ’n belowende transaksie niks anders as ’n kat in die sak was nie. ’n Paar was al hier op eie bodem ingedoen maar oom Bergman se slagoffers strek oor ’n paar provinsies, van Gauteng tot Limpopo en Mpumalanga.
’n Man van Pretoria Noord was die mees onlangste teiken. Hy het, soos talle ander, gelukkig snuf in die neus gekry, toe hy op die internet gaan rond soek het en op die talle berigte oor Bergman Vervoer en die vriendelike oom Koos afgekom het.
In Middelburg het sowat vyf besighede al deurgeloop. Koos Bergman met die gladde bek, het hier vleis, motorfietse, asook ’n grassnyertrekker uit mense verkul. Die swendelaars woeker egter nie net in Middelburg nie. Mense sover as Makhado het al deurgeloop.
Die swendelaars, wat vermoedelik êrens in Gauteng gebasseer is, is lief daarvoor om naby groot hoofweë sake te doen. Hulle was veral doenig in dorpe langs die N4 en N1.
Toe dinge bietjie warmer word, is hulle modus operandi so effe aangepas en nader aan hul eie voorstoep begin “besigheid doen”.
Ondernemings in Krugersdorp en Silverton het laat weet dat hulle onder dieselfde slenter deurgeloop het.
Meeste klaers het sake by hul plaaslike polisiestasies gaan open.
Ten spyte daarvan is daar nog geen poging aangewend om die skuldiges vas te trap nie. Daar was al verskeie arrestasies, soos in Makhado, asook onlangs by ’n battery besigheid in Pretoria Noord, wat tot niks gelei het nie.
Die bestuurder van die voertuig wat die goedere oplaai voer doodeenvoudig aan dat hy ’n karweibesigheid het en teen betaling versoek is om ’n produk by een plek te gaan oplaai en by ’n ander te gaan aflaai. Meeste van die tyd weet hy bitter min meer as dit wat hy aan die polisie vertel.
’n Privaat ondersoeker het destyds gevind dat die swendelaars heel moontlik ’n pandjieswinkel bedryf en dit die rede is vir die wye verskeidenheid goedere wat hulle steel.
Hulle maak gebruik van Postnet winkels om hul fakse en e-posse te stuur en het tot ’n skynbare landlyn wat later as virtuele landlyn, wat eintlik met ’n internetkonneksie van enige plek af bedryf kan word, ontbloot is.
Lees vorige stories hier:
Bergman-sindikaat slaan weer toe
Klaers probeer onder mekaar kontak maak en inligting uitruil, omdat die polisie net skouer optrek.
So wees maar op die uitkyk, as ’n vriendelike oom jou bel, en hy beduie vir jou hoe jou besigheid lyk of waar die produk staan wat hy wil koop, so amper asof hy al self daar was, moet die eerste gevaarliggies al begin flikker.
As hy ’n lekker groot bestelling by jou neem, wat iemand by jou sal kom oplaai of wat jy êrens moet gaan aflaai, loop maar lig.
As hy die betaling kort voor die einde van die dag, of net voor ’n naweek, elektronies van ’n ander bank as jou eie inbetaal, hou maar jou goedjies terug tot jou eie bank jou laat weet dat die geld in jou rekening is.
Kontak gerus die Middelburg Observer om met ander slagoffers in aanraking te kom.
Lees ander nuus hier:
Meer as 100 honde al vergiftig!
Vrou, seuns verloor alles in brand
From herding cattle to white house
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
