Ná die stembus kom die storm
’n Elektriese storm het bome omgeruk, skade aangerig en verkiesingsplakkate deur Middelburg gestrooi.
Lou Reed sing:
“I would not run from the holocaust
I would not run from the bomb
I’d welcome the chance to meet my maker
And fly into the sun…”
Middelburg het vanoggend wakker geword ná ’n uitputtende munisipale verkiesing en ’n elektriese storm wat bome omgeruk en verkiesingsplakkate oor die paaie gestrooi het.

Hoog bo-op ’n lamppaal in Dennesig, met twee verkiesingsplakkate daaronder, het ’n kolgans aanhoudend geroep … en toe die son in gevlieg.
Pienaardam het vroeër die week ook deurgeloop toe ’n hewige storm groot skade aangerig en die dakke van werkershuise afgeruk het.
Teen laat vanoggend het ’n afgewaaide boomtak in Sipresstraat verkeer ontwrig.
Min reën is egter aangeteken, met slegs 5 mm by Pienaardam en 13 mm in Kanonkop.