Waghuisie kos byna miljoen rand
Die banketsaal se waghuisie het plaaslike belastingbetalers 'n allemintige R990 000 uit die sak gejaag!
Die banketsaal self het ‘n buitensporige R82,5 miljoen gekos om op te rig en die grootste uitgawe was die mure en dak, wat R28,6 miljoen gekos het.
Bowenal is die bedryfskoste baie hoog en enkele syfers wat deur die munisipaliteit in atwoord op ‘n DA vraag tydens die laaste raadsvergadering gegee is, wys dat die banketsaal se uitgawes die inkomste van al die munisipale sale saam oorskry.
Belastingbetalers het vanjaar R4,97 miljoen aan onderhoudskostes op munisipale sale bestee, en die totale inkomste vir alle sale is maar ‘n skrale R631 803 vir die jaar, waarvan R516 500 hiervan aan uitgawes op die banketsaal spandeer is.
Dit is die eerste maal dat die munisipaliteit sedert die inhuldiging van die banketsaal, enige syfers beskikbaar gemaak het.
Volgens die uitgawestaat is R2,4 miljoen op grondverskuiwing spandeer, R15 miljoen op afwerking, R2,8 miljoen op elektriese installasies, R1 miljoen op water en riool, R5,6 miljoen op paaie en plaveisel, R4,1 miljoen op lugversorging en R1,1 miljoen op ‘n kragopwekker.
Video- en klantoerusting ter waarde van R3,1 miljoen is by die banketsaal geïnstalleer terwyl R1,5 miljoen op kombuistoerusting en eetgerei, en R1,4 miljoen op meubels en toerusting vir aangrensende kamers en konfernesiefasiliteite, uitgegee is.
‘n Halfmiljoen rand is op blompotte en kuns spandeer, terwyl die omheining van die banketsaal R255 000 gekos het.
Die DA soek egter meer antwoorde op die spandering op die waghuisie, wat die party se koukusleier in die raad, mnr. Hennie Niemann, sê “onmoontlik is”.
“Dis heel moontlik,” kap die munisipale bestuurder, mnr. Willie Fouché, terug en las by dat die banketsaal en alles daarin eintlik vir ‘n winskoop gebou is, omdat die aanvanklike tender van R73 miljoen, professionele dienste en toerusting uitgesluit het, selfs die vloerbedekkings vir die saal is nie ingereken by die aanvanklike tender nie.
Mnr. Fouché sê, al sou die munisipaliteit tot die been sny met toerusting vir die saal en dienste soos tuinuitleg kombuistoerusting, die bedrag steeds meer as R85 miljoen beloop.
“Na my mening, met die aanpassing van die tender, het Middelburg ‘n goeie produk, in vergelyking met wat daar sou wees vir R73 miljoen, gekry.”
Die waghuisie is volgens hom afsonderlik van die banketsaal en dienste moes aangelê word.
Die DA sê vir die inkomste wat die banketsaal op dié stadium genereer, gemeet aan die uitgawes om hom in stand te hou, ‘n wit olifant van R82,5 miljoen gebou is.
Volgens mnr. Niemann is die lugversorger dag en nag aan en het ‘n werker by die banketsaal op sy navraag gesê “die ding werk nie mooi nie, ons sit hom die vorige dag aan om die gebou vandag warm te kry”.
•Om kommentaar te lewer op die berig sms die woord banket na 37940 en dan jou kommentaar. ‘n Sms kos R1 50.
