Vrot vet by spruitjie gegooi
'n Inwoner sien rooi nadat hy Vrydag 'n man met afval vet betrap het, wat hy in Merriespruit wou gooi.
Die inwoner, wat nie geïdentifiseer wil word nie, sê hy het die man in Joubertstraat sien afstap na Merriespruit, met ‘n winkeltrollie vol houers.
Die klaer sê hy het besef daar is geen manier vir die man om die spruit met die trollie oor te steek nie.
Die klaer sê hy het ‘n vermoede gehad dat die man iets in die spruit wou gooi en hom gevra wie hy is, wat in die houers is, en wat hy daarmee beplan.
“Hy het vir my gesê hy werk vir Kanhym Slaghuis en is aangesê om die sakke vol afval vet, in die spruit te kom gooi,” sê die klaer.
Hy het die Middelburg Observer gebel, wat gaan ondersoek instel het.
Die spore van die trollie was duidelik op los sand in die doodloop van die straat.
Die spore het egter nie na die spruitjie gelei nie, maar na die stormwater drein, waar twee sakke vol afval gevind is.
Dit wil voorkom asof die man gepoog het om die afval in die drein te gooi.
Die sakke het egter geskeur, en is voor die drein gelaat.
Die doodloopstraat is al gebruik as ‘n onwettige stortingsterrein vir inwoners.
“Ek kan eenvoudig nie glo dat ‘n slaghuis opdrag sal gee om diere afval onwettig weg te gooi nie, en dit nog in ‘n spruit!” sê die klaer.
•Kanhym Slaghuisbestuurder, me. Elsa Strydom, sê sy het beslis nie opdrag gegee dat daar afval weggegooi moet word Vrydag nie.
“Ek is deeglik bewus van alles wat in my slaghuis aangaan, en kan eerlik sê dit was beslis nie een van my werkers nie,” sê me. Strydom, en las by dat sy nie die enigste winkel is wat met vleis en kos in die Green Acres arkade werk nie, “hier’s ‘n Sjinese restaurant en ander eetplekke ook”.
