Bus met klippe bestook
'n Klip wat na 'n bus gegooi is ná netbalwedstryde by Belfast Akademie, het 'n sestienjarige netbalspeler van Hoërskool Kanonkop teen die kop getref.
Michelle Mhlangu sê sy is dankbaar dat sy nie ernstige beserings opgedoen het nie, aangesien haar hare en lyf ook deurtrek was van glasstukkies nadat ‘n venster gebreek het.
Hoërskool Kanonkop se netbalspanne het Dinsdagmiddag in die A2-netballiga teen Belfast Akademie gespeel.
Die eerste span was in ‘n klipharde kragmeting betrokke. Emosies het begin hoog loop toe die wedstryd verleng is omdat die spanne gelykop was.
Die netbalspelers onthou spesifiek een dogter wat sigbaar kwaad was tydens die wedstryd. “Sy was uiters aggressief en het ook gevloek tydens die wedstryd,” sê Michelle.
Ná die wedstryde is al die dogters na die bus. Toe hulle wou ry, het iemand die hek toegemaak. ‘n Leerling van Belfast Akademie het dadelik nadergekom en die hek vir die bus oopgemaak.
Die busbestuurder het opgemerk dat daar klippe in die pad gepak is, waarop hulle besluit het om dan sommer om die blok te ry tot by die hoofstraat.
Die oomblik toe die bus langs die skool in die hoofstraat verby gery het oppad hoofweg toe, het twee dogters en twee seuns van die kant af na die bus gehardloop.
Die kinders in die bus het hul boeglam geskrik toe ‘n klip van buite af skielik die een venster laat kraak. Nog ‘n klip het ‘n venster getref waar Michelle aan die regterkant gesit het. Die venster het versplinter, waarop die klip haar links teen die kop getref en glasstukke oor haar gereën het.
Die dogters het opgemerk dat dit die eerstespan speler was wat kort vantevore tydens die wedstryd so aggressief was. Volgens hulle het sy die klippe gegooi. Daar is ook gesien dat ‘n ander dogter ‘n bottel in haar hand het. Saam met die dogters was daar twee seuns.
“Ek kan nie glo dat ‘n meisie so gewelddadig kan wees nie,” het Michelle ontsteld gesê.
• Michelle het nie ernstige beserings opgedoen nie. Sy het die res van die aand net hoofpyn gehad en haar ma het haar die volgende dag dokter toe gevat om te verseker dat sy nie enigiets van die voorval sal oorhou nie.
• ‘n Saak van opsetlike saakbeskadiging is dadelik by die Belfast Polisie aanhangig gemaak.
• Mnr. Martin Fourie (hoof, Hoërskool Kanonkop) het die voorval ten sterkste veroordeel. “Dit is onaanvaarbaar. Sulke dinge kan nie gebeur nie!”
Mnr. Fourie sê hy het reeds besluit dat indien Kanonkop in die vervolg teen Belfast Akademie te staan moet kom, die wedstryde by Kanonkop óf by ‘n neutrale veld beslis sal word.
Hy het genoem dat mnr. Chris Kruger (hoof, Belfast Akademie) reeds verskoning gevra het na aanleiding van die voorval.
• Mnr. Kruger sê hulle reeds besig om die kwessie te ondersoek en sal die dissiplinêre komitee “definitief optree. Dit sal beslis nie ongesiens verbygaan nie en daar sal ‘n voorbeeld gemaak maak van die skuldiges! Ek vereenselwig my nie met sulke laakbare gedrag nie. Ek sal dit nooit goedkeur nie.”
