Update: Skoonmaak exposé maak steeds opslae
'n Heksejag is deur die polisie van stapel gestuur om die mol, wat die direktief oor Woensdae se skoonmaak aan die Observer gelek het, uit sy gat te rook.
Die stasiebevelvoerder, brigadier Ngobeni, wou Woensdag nie erken, of ontken, dat dit die geval is en wat met die mol sou gebeur as hy gevind word nie.
Soos die skoonmaak in oorpakke vir vier ure van 12:00 op Woensdae, is die gejag vir die mol ook ‘n gejaag na wind, in plaas om die polisie terug te sit op die straat om moordenaars, verkragters, kindermolesteerders, witboordjie diewe, dwelmsmouse en hul kliënte, huisrowers, transitorowers en kapers van die straat af te haal.
Die vonke het behoorlik gespat na verlede week se voorblad berig oor die opdrag aan polisiemanne wat Woensdae hul uniforms vir ‘n oorpak, en hul pistole vir ‘n mop moet verruil.
‘n Verrassende bohaai is veral oor die steelfoto op die vooblad van ‘n polisie offisier wat vloere was gemaak.
Daar is egter tweespalt, onder die wat voel die skoonmakery is aanvaarbaar teen die wat voel hulle is meer nodig op die strate.
Die provinsiale segsman, brigadier Selvy Mohlala sê, geen skoonmaaktye is aan die stasies voorgeskryf nie.
Hy sê die besluit is plaaslik geneem.
Volgens hom is daar bloot opdrag gegee dat bevelvoerders verantwoordelikheid neem vir die netheid van hul stasies.
Die stasiekommissaris, brigadier Ngobeni, wou dadelik weet “waar die Observer die direktief in die hande gekry het Hy kon voorts ook nie sê of die stasie na verlede Woensdag se skrop en mop nou skoon is nie “omdat ek nog nie inspeksie gedoen het nie, dit sal ek doen op wanneer dit my pas”.
